ROEPING EN VERKIESING
In my stiltetyd het ek die gebruik om alles neer te skryf wat ek ervaar – meestal kom nuwe openbarings vanuit die gedeeltes waarmee ek besig is. Ek het dus altyd my joernaal boekie byderhand.
Dit het ʼn paar keer gebeur dat ek op verskillende maniere ʼn ander skrif ontvang as die boek waarmee ek besig was – in hierdie besondere geval, was ek besig om die boek Romeine te lees. Ek het so baie openbaring en opdragte ontvang dat dit nogal lank geneem het om deur Romeine te lees.
Heilige Gees herinner my vandag (20/3/2025) dat ek my vorige joernaal boekie moet gaan uithaal om weer 2 Petrus 1 : 10 te her-ontdek. : die openbaring was dat ek deur my lewe bewys dat God my geroep het!
Dis hoe Heilige Gees die skrif openbaar – wanneer dit God se tyd is… Die vorige keer was dit nie so intens soos nou nie.
Ek het summier die hoofbladsy op my eie webblad daarmee aangepas.
Ek lees graag die gedeelte :
2 Petrus 1:10-11:
“Daarom, broeders, beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie. 11. Want so sal ‘n ingang oorvloedig aan julle gedien word in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus.”
Wanneer God ons tot stilstand roep en Sy mandaat openbaar – vra Hy gehoorsaamheid
Ook in die ou Testament is baie individue deur God geroep om in Sy diens te staan –
Hierdie individue is deur God vir spesifieke doeleindes gekies, en hulle roepings het dikwels gepaard gegaan met beloftes en verbonde.
Hulle verhale demonstreer God se soewereiniteit en Sy begeerte om deur individue te werk om Sy planne te verwesenlik: Abraham, Isak, Jacob, Moses en Dawid om maar ‘n paar te noem.
Gehoorsaamheid:
As God ‘n spesifieke taak of mandaat aan jou gee, en jy doen dit nie, gaan daar gevolge wees :
1. Deur nie God se mandaat te gehoorsaam nie, kan jy die geleentheid mis om jou doel te bereik en om ‘n beduidende impak te maak. Volgens Matteus 25:14-30, die gelykenis van die talente.
2. In Genesis 3:8-10, het Adam en Eva se ongehoorsaamheid gelei tot afstand tussen hulle en God. Dit kan dus lei tot ‘n gebrek aan intimiteit in jou verhouding met God.
3. Afhangende van die spesifieke mandaat en jou rol, kan ongehoorsaamheid ernstige gevolge hê. Saul se ongehoorsaamheid as ʼn voorbeeld – as jy geroep word om ‘n leier te wees, kan ongehoorsaamheid nie net jou eie lewe beïnvloed nie, maar ook die lewens van diegene waarvoor jy verantwoordelik is. (1 Samuel 15:22-23)
4. Gehoorsaamheid aan God se mandaat kan seëninge en guns bring. Ongehoorsaamheid, aan die ander kant, kan veroorsaak dat jy hierdie seëninge mis.
Deuteronomium 28:1-2
“ As jy aandagtig luister na die stem van die Here jou God… deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die Here jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. 2 Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die Here jou God”
Dit is noodsaaklik om te onthou dat God ‘n liefdevolle en genadige Vader is. As jy tot nou toe ongehoorsaam was aan jou opdrag en roeping kan jy:
1. Bekeer … en vra om vergifnis: 1 Johannes 1:9 sê: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”
2. Soek dan, en vra God vir leiding en wysheid om Sy mandaat te verstaan en hoe om dit na te kom.
3. Neem stappe na gehoorsaamheid: Begin met klein treetjies na gehoorsaamheid, en vertrou dat God jou die krag en moed sal gee om voort te gaan.
Gehoorsaamheid aan God se mandaat gaan nie daaroor om Sy liefde of guns te verdien nie, maar oor geloof, vertroue en oorgawe aan Sy wil.
SHALOM
