INLEIDING / EERSTE MENS:
My ervaring (ook my opinie) van die laaste paar jaar, is dat baie van ons onseker is of ons werklik God se stem direk kan hoor/ervaar.
Ons sukkel somtyds om te aanvaar dat Hy met ons persoonlik kan praat. En ook dat Hy op ander maniere, ook deur ander mense, kontak met ons wil maak.
In die vorige reeks het ons reeds by Habakuk geleer om God op ‘n meer persoonlike manier te hoor, in ‘n gefokusde 2-rigting gesprek, en om te wag. Dit, terwyl ons in stilte bly fokus op Hom, om Sy antwoord op ons baie spesifieke vraag te hoor deur die spontane gedagtes wat by ons opkom, en dit dan onmiddellik neer te skryf.
Ons het bespreek dat dit makliker gebeur in ons intieme tyd met God wanneer ons stil en rustig is, en op Hom fokus, sonder om gejaagd te wees.
Ter herinnering (lees dit gerus in my AFRIKAANSE BLOGS) :
Habakkuk 2:1-2:
Die 4 sleutels om God te hoor:
- Raak stil
- Fokus op Jesus- visualiseer Hy is by jou
- Vra Hom wat Hy wil antwoord op jou vraag, “ Jesus wat wil U vir my sê oor… “
- Terwyl jy steeds op Jesus fokus, bly ingestel op die spontane gedagtes wat nou by jou opkom – dis Sy antwoord op jou vraag – SKRYF DIT NEER. – bly rustig en bly fokus op Hom… moenie forseer nie – daar mag dalk net stilte ook wees…geen antwoord
ANDER BOODSKAPPERS
God het ook openbarings en boodskappe via mense gestuur. Hulle wysheid en ervaring, en ook al die Bybelse verhale en voorbeelde – is vir ons bedoel om meer te weet en te verstaan wat God vir ons wil sê en wil leer.
Ons enigste handleiding is en bly God se Woord :
HOEKOM?
2 Tim 3:16-17 – DB
- Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. 17. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.
Dit sluit aan by Jesus Christus toe Hy self by herhaling gesê het dat Hy gekom het om die profesieë te vervul.
Matteus 5 : 17
“Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. 18. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit.”
Lukas 24:44
“44. Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword. 45. Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê. 46. Sien julle nou dat die Bybel sê dat die Messias moes kom ly en dat Hy op die derde dag weer uit die dood sou opstaan?”
GOD PRAAT DEUR MENSE DEEL 1:
OU TESTAMENT – IN DIE BEGIN:
Wanneer ons dieper ontleed en navorsing doen, (ek begin gewoonlik nuwe navorsing uit Genesis) kan Adam, die eerste mens, ook as ‘n profeet beskou word, aangesien hy direkte gesprekke met God in die tuin van Eden gehad het. Wat leer ons uit die Adam se optrede met God se groot opdrag aan hom en Eva?
Genesis 1:27: DB
“God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk …”
Adam bied waardevolle lesse en insigte aan ons -hier is ‘n paar :
ADAM: GEHOORSAAMHEID vs ONGEHOORSAAMHEID
Adam se verhaal beklemtoon die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God se instruksies en die impak daarvan op ons verhoudings en lewens – daarteenoor die gevolge van ongehoorsaamheid:
Adam se keuse om die verbode vrug te eet (Genesis 3) illustreer die gevolge van ongehoorsaamheid aan God se opdragte en mandaat wat Hy gee.
Adam se aanvanklike verhouding met God in die Tuin van Eden (Genesis 2) illustreer die potensiaal vir ‘n diep, persoonlike verbintenis met God. Adam se ongehoorsaamheid het gelei tot ‘n gebroke verhouding met God, wat die gevolge van sonde beklemtoon.
Adam se ervaring met Eva en die slang (Genesis 3) leer ons om bewus te wees van versoeking, soos wat Adam hier bewys: vir hom om Eva te glo en te doen wat sy vra, dien as ‘n herinnering om versigtig te wees vir valse inligting en om God se waarheid te soek.
Adam se optrede demonstreer die belangrikheid daarvan om VERANTWOORDELIKHEID te neem vir ons keuses en optrede. En dat God van ons aanspreeklikheid gaan vra vir ons besluite en dade.
Adam se keuses demonstreer die konsep van vrye wil en die vermoë om besluite te neem wat ons lewens beïnvloed en dit openbaar aspekte van die menslike natuur, insluitend kwesbaarheid vir versoeking en die neiging om ander te blameer.
Ten spyte van Adam se ongehoorsaamheid, is God se plan vir verlossing duidelik in die belofte van ‘n Verlosser (Genesis 3:15).
Adam se verhaal bied hoop in God se genade en vergifnis, selfs in die aangesig van ongehoorsaamheid.
Hierdie is sulke waardevolle lesse oor gehoorsaamheid, versoeking, verantwoordelikheid, verhoudings en verlossing.
God kan dus kies wie Hy wil gebruik – en waarvoor – hoe meer ons ingestel is, ook met kennis oor die Bybelse boodskappers en profete, kan ons Hom heel waarskynlik makliker hoor en Sy opdragte ontvang en uitvoer.
Volgende keer
DEEL 2 – Abraham se profisieë en verhale.
Dankie Pappa Vader, vir U leiding om ons dieper insig en begrip direk uit U Woord te leer. Ons eer en prys U daarvoor : alles tot eer en verheerliking van Jesus Christus.
SHALOM
