Die hele Bybel is deur God geinspireer !

 
Die profete en boodskappers van die Bybelse tye se wysheid en ervaring, en ook al die Bybelse verhale en voorbeelde,   is opgeteken vir ons as handleiding  soos Paulus so mooi opsom : 
 

2 Tim 3:16-17 in die Boodskap vertaling : 

Vers 16 :

Die hele Skrif kom direk van God af.
Daaruit kan ons só baie leer.
Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak, en om hulle weer reg te help.
Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef.

Vers 17: Op dié manier sal iemand wat aan God behoort, weet wat God van hom verwag, en só reg wees om Hom op die regte manier te dien.

Profesieë in God se Woord

Die 12 Kleiner Profete in die Ou Testament  :  Die term “kleiner profete” verwys na die korter boeke van profesie in die Ou Testament – beslis nie na die belangrikheid van hul boodskappe nie.

Ons gaan in die volgende weke oor ’n paar van hulle gesels:

Hosea

Hosea se profesieë fokus op God se liefde en oordeel, en roep Israel op tot bekering. Sy lewe illustreer God se onwrikbare liefde en genade – selfs in die aangesig van sonde en ongehoorsaamheid.

Vervulde profesieë

Een vervulde profesie in Hosea is die oordeel oor Israel weens hul afgodery en sonde. Hosea het gewaarsku teen ’n komende straf, en in 722 v.C. het die Assiriërs die Noordelike Koninkryk van Israel verower en vernietig – presies soos hy voorspel het.

Verder word Hosea 1:10–2:1 en 2:23, waarin God herstel belowe, as vervul beskou in die Nuwe Testament. Heidene word deel van God se volk en ontvangers van Sy genade, soos verwys in 1 Petrus 2:9–10 en Romeine 9:25–26.

Onvervulde profesie

Een van die belangrikste onvervulde profesieë in Hosea is die toekomstige herstel van Israel. In Hosea 3:4–5 lees ons van ’n tyd wanneer Israel sonder koning of prins sal wees, sonder offerandes of afgode, maar dan na die Here hul God sal terugkeer en na Dawid, hul koning, sal soek. Hierdie gedeelte word dikwels geïnterpreteer as ’n belofte van toekomstige bekering en herstel – iets wat nog nie ten volle vervul is nie.

Ek dink sommer nou aan wat God aan Salomo gesê het in 2 Kronieke 7:14 – ’n vers waarna die evangelis Angus Buchan ook dikwels verwys:

2 Kronieke 7:14
“…en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid soek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:13–14)

Refleksie

Hosea het rondom 700 v.C. geleef, en steeds het die volk nie geluister nie.

Salomo se era was sowat 430 jaar voor Christus – en tog het mense tow ook nie geluister nie.

Omdat mense steeds nie God se Woord gehoorsaam nie, gebruik Hy deur al die eeue mense as Sy spreekbuise.

Ons is dus almal potensiële instrumente in God se plan – wees gereed!

 

Ten slotte:

Dis inderdaad opwindend om soveel openbarings van God se Woord te ontvang, en om te leer om al hoe meer in Sy teenwoordigheid te leef. Laat ons ook oop bly vir hedendaagse getuienisse — en hoe mense se lewens drasties verander word.

Jy kan na my uitsendings op Radio Kaapse Kansel luister – elke Woensdag net na 14H30 

Laai gerus die toepassing af om na die radio stasie te luister. 
capepulpit.co.za

Tot ‘n volgende keer 

SHALOM
AMANDA

 

Shopping Cart
Scroll to Top