GOD PRAAT DEUR MENSE – DEEL 8
Goeiedag aan elkeen wat hier lees: om deur God gebruik te word as ’n spreekbuis vir boodskappe aan ander, is ’n geweldige eer en voorreg. Die vereiste is, volgens my, om dit in nederigheid te ontvang en in nederigheid uit te voer.
Ek het die laaste vyf boeke van die profete van die Ou Testament en God se boodskap daaruit vir ons vandag bestudeer, en ek deel graag die verstaan en uitkoms daarvan met jou. In die laaste vyf boeke van die Ou Testament gebruik God sy profete om:
- waarskuwings
- oproepe tot bekering
- beloftes van herstel oor te dra.
Hierdie boodskappe was nie net vir Israel en Juda destyds nie, maar spreek ook vandag nog kragtig tot ons harte. Kom ons kyk na die oorkoepelende boodskap van elke profeet, op wie dit van toepassing was in die Bybelse tyd, en hoe Jesus se woorde die tydlose betekenis daarvan bevestig.
1. HABAKKUK – Vertrou God se plan
Habakkuk profeteer teen Babilon se geweldenaars en vra God oor die probleem van boosheid en onreg. Juda moes leer om God te vertrou, selfs in tye van groot donkerte.
Vandag: Ons word, net soos in Habakkuk se tyd, geroep om op God te vertrou al verstaan ons nie sy weë nie.
Jesus se woorde om God te vertrou:
- “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.” (Johannes 14:1)
- “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.” (Markus 11:22)
- “Wat Ek nou doen, verstaan jy nie, maar jy sal dit later verstaan.” (Johannes 13:7)
VRAAG:
Waar in jou lewe is dit moeilik om God se plan te vertrou? Bid en vra Hom vir geloof om aan sy tydlyn vas te hou, soos Habakkuk gedoen het.
Habakkuk 2:1–2
“Ek wil op my wagpos gaan staan en my op die vesting opstel; ek wil uitkyk en sien wat Hy met my sal spreek en wat ek moet antwoord wanneer ek verwyt word. Toe antwoord die Here my en sê: Skryf die gesig op en grif dit duidelik op tablette, sodat dit maklik gelees kan word.”
Soos Habakkuk moet ons wag en luister na die Here se stem. Wanneer jy bid en wag, skryf daardie spontane gedagtes neer – dit is die Heilige Gees wat met jou praat. Moenie probeer om dit te verander of te parafraseer nie; skryf dit net so neer en deel dit met ander. In Engels noem ons dit journaling – dit is God wat met jou praat.
2. SEFANJA – Waarskuwing teen die “Dag van die Here”
Sefanja waarsku Juda en die nasies teen die komende “Dag van die Here” en roep hulle tot bekering. God waarsku ons steeds teen geestelike selftevredenheid en nooi ons tot ’n lewe van heiligheid en toewyding.
Jesus se woorde
- “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matteus 4:17)
- “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie.” (Matteus 24:42)
- “En julle moet op julle hoede wees dat julle harte nie miskien swaar word deur swelg en dronkenskap en sorge van die lewe nie.” (Lukas 21:34)
VRAAG:
Is daar gebiede in jou lewe waar God jou oproep tot groter toewyding en reinheid?
3. HAGGAI – Soek eers God se koninkryk
Na die ballingskap moedig Haggai die volk aan om die tempel te herbou en God eerste te stel in hulle lewens. Ons word vandag ook geroep om ons prioriteite reg te stel en God se koninkryk eerste te soek.
Jesus se woorde
- “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:33)
- “Hy wat My liefhet, sal my woord bewaar; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Johannes 14:23)
- “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Matteus 6:21)
VRAAG:
Waar in jou lewe het ander dinge dalk die plek van God se koninkryk ingeneem?
4. SAGARIA – Werk deur die Gees
Sagaria bemoedig die volk met visioene van vernuwing en die koms van die Messias. Hy herinner hulle dat God se werk deur sy Gees geskied. God werk steeds deur sy Gees om sy kinders te herstel en te lei.
Jesus se woorde
- “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.” (Sagaria 4:6 – herhaal in die Nuwe Testament)
- “En Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.” (Johannes 14:16)
- “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6)
VRAAG:
Hoe laat jy toe dat die Heilige Gees jou lei en verander?
5. MALEAGI – Bly waaksaam
Maleagi spreek die volk aan oor hulle laksheid in aanbidding en kondig die koms van Elia aan – ’n verwysing na Johannes die Doper wat die weg vir Jesus voorberei. Ons word vandag steeds geroep om waaksaam te wees en onsself gereed te hou vir Jesus se wederkoms.
Jesus se woorde
- “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit, wat jou weg voor jou sal berei.” (Markus 1:2)
- “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie.” (Matteus 24:42)
- “Wees dan gereed, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.” (Lukas 12:40)
VRAAG:
Hoe leef jy vandag om gereed te wees vir Christus se wederkoms?
Opsomming
Die laaste vyf profete roep ons tot:
1.Geloof (Habakkuk)
2.Bekering (Sefanja)
3.Prioriteite (Haggai)
4.Lewe in die Gees (Sagaria)
5.Waaksaamheid (Maleagi)
Jesus self bevestig hierdie oproepe en nooi ons in ’n verhouding waar ons:
- vertrou,
- bekering uitleef,
- sy Gees volg en
- waaksaam wag op sy koms.
Dit is duidelik uit hierdie opsomming dat ons gedurig tyd moet spandeer in God se Woord.
Joshua 1:8
“Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan; dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.”
Ons kom aan die einde van die Ou Testament-deel van ons reeks, en ek is seker elkeen het êrens iets opgestel uit die profete se boodskappe (profesieë) wat hulle ontvang het, om te besef dat dit vir óns geskryf is.
God gee sy Woord sodat ons ’n dieper begrip kan kry en ’n dieper verhouding met Hom kan bou. Dit is geensins die einde nie – in teendeel, dit is die begin van dieper Bybelstudie vir elkeen, hetsy deur die Bybel meer getrou elke dag te bestudeer met ’n bepaalde plan en/of deur formeel as ’n student in te skryf by ons Bybelskool, of ’n ander – soos die Heilige Gees jou sal lei.
Lees elke profeet se boodskap en vra die Heilige Gees vir leiding oor hoe om dit op jou toe te pas. Skryf neer wat God vir jou sê – moenie probeer om dit te verander of te parafraseer nie. Net soos Habakkuk, wag op die Here en skryf daardie spontane gedagtes neer – dit is die Heilige Gees se stem aan jou.
Jy is welkom om my te laat weet hoe hierdie reeks jou persoonlik gehelp het om in jou verhouding met Jesus Christus te groei en om die Heilige Gees te ervaar as jou helper. Daar is ’n plekkie op die webblad waar jy kommentaar kan lewer, of stuur ’n WhatsApp na 082 926 5062. Luister gerus Woensdae om 13:30 op Radio Kaapse Kansel – onthou, indien jy dit nog nie gedoen het nie, laai Radio Kaapse Kansel se toep (app) af, deur na jou slimfoon se Play Store te gaan en daarna te soek.
Volgende week begin ’n nuwe reeks. Ek sien uit daarna om dit met julle te deel.
SHALOM
Amanda
