DEEL 1
Goeiedag
Dankie dat jy inloer om te lees en te hoor wat God (vir jou) wil sê. Dis ’n voorreg om ’n spreekbuis van God se profesieë te kan wees.
Hierdie reeks gaan oor Jesus Christus: om Hom dieper en direk uit Sy Woord te leer ken.
’n Hele klomp aflewerings in hierdie reeks is op pad. Ek deel graag die ontdekkings en openbarings wat ek ervaar het oor die profesieë wat in die Ou Testament geskryf is – dit is te veel om daaroor stil te bly. Daarom verpak ek dit in verskeie aflewerings oor die volgende paar weke.
Wat is ’n profesie?
Profeteer = God spreek deur ’n mens, en die mens praat of gesels met ander daaroor, onder die leiding van die Heilige Gees, en dit dra Sy gesag. Dit is dus nie ’n voorspelling nie.
1.Wie het die Bybel geskryf?
Vir dié wat dieper wil delf in die Bybel deur intense studie, is dit belangrik om te weet hoe, wanneer en deur wie die Bybel saamgestel is. Daarom bied ek hier die antwoorde uit die Woord aan.
2 Petrus 1:20–21 (2020-vertaling, BSA):
“Dit moet julle veral weet: Geen profesie in die Skrif ontstaan deur eie uitleg nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het van God af gespreek, gedryf deur die Heilige Gees.”
Hierdie gedeelte leer:
– Die Bybel is nie oop vir willekeurige of private interpretasie nie.
– Die oorsprong van die Woord is die Heilige Gees, en daarom moet die Heilige Gees ons lei in interpretasie.
– Die Woord verklaar homself, omdat dit een Gees is wat alles geïnspireer het.
Absoluut verstommend!
Nog ’n sterk bevestiging is Handelinge 17:11 -Hierdie gedeelte wys pragtig: Paulus bring die evangelie eers in die sinagoge (soos sy gewoonte was).
- Die mense van Berea ontvang die boodskap, maar hulle toets dit aan die Skrif.
- Die gevolg: baie kom tot geloof – nie net Jode nie, maar ook Grieke.
Hierdie twee gedeeltes saam gee ’n goeie grondslag:
- Die Bybel kom van God af (nie mense nie).
- Die Bybel moet met die Bybel getoets en verklaar word.
2. God se opdrag aan Josua
Josua 1:8 (2020-vertaling, BSA):
“Hierdie wetboek moet nie uit jou mond wyk nie. Jy moet dit dag en nag oordink, sodat jy noukeurig kan leef volgens alles wat daarin geskryf staan. Dan sal jy sukses hê in wat jy aanpak, en jy sal voorspoedig wees.”
Josua 1:8 plaas die klem op méér as net lees – dit gaan oor bestudeer, oordink en toepas. Die Here gee aan Josua ’n sleutel tot geestelike en praktiese voorspoed:
– “Hierdie wetboek moet nie uit jou mond wyk nie” → Jy moet dit praat, bely en deel.
– “Jy moet dit dag en nag oordink” → Nie vinnig lees nie, maar dink, herkou en studeer soos iemand wat kos stadig kou.
– “Sodat jy noukeurig kan leef volgens alles wat daarin geskryf staan” → Die doel van Bybelstudie is gehoorsaamheid.
– “Dan sal jy sukses hê … en jy sal voorspoedig wees” → God se seën volg wanneer Sy Woord in ons hart en lewe ingebou word.
Ons Lewensgids
Die Bybel roep ons om nie maar net te weet wat daarin staan nie, maar om dit as lewensgids te bestudeer en deurdag te leef. Die Hebreeuse woord vir “oordink” (הגה hagah) beteken letterlik “om te murmureer, sag te mompel, om oor en oor te herhaal” – dus ’n aktiewe studie, herhaling en oorweging.
Psalm 1:2 (2020-vertaling, BSA):
“maar sy vreugde is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.”
Opsomming
- Die Bybel kom van God af (nie van mense nie).
- Die Bybel moet met die Bybel getoets en verklaar word – Skrif verklaar Skrif.
- God wil hê ons moet die Bybel ken, bestudeer, oordink en toepas.
JESUS in die OU TESTAMENT – GENESIS
Ons reeks gaan oor Jesus, die Messias, wat in die Ou Testament herhaaldelik geprofeteer is.
Genesis 3:15 (2020-vertaling, BSA):
“Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Genesis 12:3 (2020-vertaling, BSA):
“Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die families van die aarde geseën word.”
- Genesis 3:15 – die eerste direkte Messiaanse profesie: oorwinning oor Satan. – Stem jy saam?
- Genesis 12:3 – die Messias sou uit Abraham se lyn kom, tot seën vir alle nasies. – Stem jy saam ?
My voorstel is om eers op jou eie te lees, te bestudeer en jou eie gevolgtrekking te maak, (kyk na ander skrifte : Skrif verduidelik Skrif) stem jy saam, indien nie – wat is dit wat jy by Heilige Gees hoor?.
Ons eindig eers hier vir hierdie aflewering
Ek vertrou dat dit jou geïnspireer het om die Bybel met groter diepte te lees en dit toe te pas in jou eie lewe.
Ons is werklik geseënd dat ons die Bybel mag lees. Ek nooi jou uit om saam met my te bid vir die mense in lande waar Bybellees nie toegelaat word nie. Ek dank God saam met elkeen van julle vir die voorreg om ’n Bybel te hê – en om dit openlik te kan gebruik, selfs op jou selfoon of enige ander tegnologie.
Wees saam met my bly en opgewonde om meer tyd in God se teenwoordigheid en in Sy Woord deur te bring.
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels. Maar voor ek totsiens sê:
BELANGRIK
- Al hierdie BLOGS word weeklikse op ‘n Woensdag, net na 13h30 op Radio Kaapse Kansel uitgesaai : Het jy al Radio Kaapse Kansel se app vanuit jou Playstore afgelaai? Indien nie, soek vir Cape Pulpit in jou Playstore en laai af!
- Jy is welkom om per WhatsApp ‘n nota aan my te stuur : ek sal graag wil hoor hoe jy hierdie inligting ervaar het : 082 926 5062 .
- heel onderaan al die BLOGs is ‘n gedeelte “GET IN TOUCH – leave a message”– wat jy ook kan gebruik.

