DEEL 2 

 Goeiedag, dankie dat jy inloer.


Dit is weereens vir my ’n groot voorreg om met julle te kan gesels.

Kom ons bid saam en vra die Heilige Gees om ons ore en oë oop te maak:
DANKIE HEILIGE GEES DAT ONS VANDAG DIEPER BEGRIPPE UIT DIE WOORD KAN LEER – DANKIE JESUS, DAT U MENS GEWORD HET, EN TUSSEN ONS KOM WOON HET.
Dankie vir U WOORD.
AMEN.

Hierdie reeks gaan oor Jesus Christus, om Hom dieper en direk uit Sy Woord te leer ken.

Ons het verlede keer twee belangrike vrae bespreek:

1. Wie het die Bybel geskryf?
’n Kernvers wat dit bevestig is:

2 Petrus 1:20–21 (2020-vertaling)
“Dit moet julle veral weet: Geen profesie in die Skrif ontstaan deur eie uitleg nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het van God af gespreek, gedryf deur die Heilige Gees.”

Hierdie gedeelte leer dat:
• Die Bybel nie oop is vir willekeurige of private interpretasie nie.
• Die oorsprong van die Woord is die Heilige Gees, en daarom moet die Heilige Gees ons ook lei in interpretasie.
• Die Woord verklaar homself omdat dit een Gees is wat alles geïnspireer het.

2. God gee opdrag – Josua 1:8


“Hierdie wetboek moet nie uit jou mond wyk nie. Jy moet dit dag en nag oordink, sodat jy noukeurig kan leef volgens alles wat daarin geskryf staan. Dan sal jy sukses hê in wat jy aanpak, en jy sal voorspoedig wees.”

Josua 1:8 plaas die klem op méér as net lees – dit gaan oor bestudeer, oordink en toepas.
Die Bybel roep ons om nie net te weet wat daarin staan nie, maar om dit as lewensgids te bestudeer en deurdag te leef.

Die Hebreeuse woord vir “oordink” (הגה hagah) beteken letterlik:
 “om te murmureer, sag te mompel, oor en oor te herhaal.”
Dit wys dus op ’n aktiewe studie, herhaling en oorweging.

Opsomming
• Die Bybel kom van God af (nie van mense nie).
• Die Bybel moet met die Bybel getoets en verklaar word – Skrif verklaar Skrif.
• God wil hê ons moet die Bybel ken, bestudeer, oordink en toepas.

Ou Testament profesieë oor Jesus
Ons gesels nou verder oor ons reeks oor Jesus, die Messias, wat in die Ou Testament herhaaldelik voorspel en profeteer is.

Verlede keer (DEEL 1 van hierdie reeks), het ons by Genesis begin. Vandag kyk ons weer na daardie eerste profesieë:

1. In die tuin van Eden, ná die sondeval
God spreek tot die slang en belowe ’n nakomeling van die vrou wat die slang se kop sal vermorsel – die eerste Evangelie.


Genesis 3:15
“Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag; Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”

2. God toets Abraham se geloof
Net voor Isak geoffer word, voorsien God self. Hy belowe: deur Abraham se nageslag sal al die nasies geseën word – vooruitwysing na die Messias.

Genesis 22:18
“In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na My stem geluister het.”

Simboliese betekenis van Genesis 3:15
Die beeld van die byt in die hakskeen word simbolies verstaan: dit is pynlik en verwondend, maar nie finaal dodelik nie.


Dit dui op Satan se aanvalle wat wel skade en lyding veroorsaak (selfs Jesus se dood aan die kruis), maar nee, hy kan NIE die finale oorwinning steel nie – want Christus het opgestaan  en oorwin.

Toe Jesus op aarde was, het Hy baie profesieë vervul oor “Messias die Leier”, die “Redder van die wêreld” (Daniël 9:25; 1 Johannes 4:14). Selfs ná sy dood het Hy voortgegaan om Messiaanse profesieë te vervul.

1 Johannes 4:14
“Ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.”

Slot
Dit bring ons aan die einde van vandag se gesprek. Ek vertrou dat dit jou geïnspireer het om die Bybel met groter passie en diepte te lees, en dit toe te pas op jou eie lewe.

Ons is werklik geseënd dat ons die Bybel mag lees – en ek nooi jou uit om saam met my te bid vir die mense in lande waar Bybels nie toegelaat word nie.


Ek dank God saam met elkeen van julle vir die voorreg om ’n Bybel te hê – en om dit openlik te kan gebruik, selfs op jou selfoon of enige ander tegnologie.

Wees saam met my bly en opgewonde om meer tyd in God se teenwoordigheid en in Sy Woord deur te bring.

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Voor ek totsiens sê herinner ek net aan die volgende:

Radio Kaapse Kansel
Jy kan gerus na my weeklikse uitsendings luister : Woensdae 13:30.

Terloops, het jy al Radio Kaapse Kansel se APP afgelaai uit jou PLAYSTORE? Indien nie – soek vir CapePulpit in jou PLAYSTORE – en luister enige plek, enige tyd.

Ek is Amanda Pool.
Shalom. 

Shopping Cart
Scroll to Top