DEEL 3
Goeiedag
Baie dankie dat jy inloer.
Hierdie reeks gaan oor Jesus Christus, om Hom dieper en direk uit Sy Woord te leer ken.
Die basis waarvandaan ons dan wegspring om oor Jesus in die Ou Testament te gesels, is die volgende:
• Die Bybel kom van God af (nie van mense nie).
• Die Bybel moet met die Bybel getoets en verklaar word – Skrif verklaar Skrif.
• God wil hê ons moet die Bybel ken, bestudeer, oordink en toepas.
1 Petrus 3:15
“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord — maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”
Hierdie reeks gaan juis daaroor om meer te weet en te verstaan wat in die Ou Testament oor Jesus geskryf is.
In die Ou Testament is daar herhaaldelik geprofeteer oor die koms van die Messias.
Laas het ons gesels oor die begin van die profesieë in Genesis.
Vandag deel ek my bevindinge oor die 3de, 4de en 5de profesieë in die Ou Testament oor Jesus:
3. Jakob se profesie oor Juda
Op sy sterfbed voorspel Jakob dat die koningskap by Juda sal bly totdat die ware Heerser verskyn. Hy sê dat die nasies Hom sal gehoorsaam.
Genesis 49:10
“Die septer sal nie van Juda wyk nie, en die heerserstaf nie tussen sy voete weggaan nie, totdat Hy kom aan wie dit behoort, en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”
4. Bileam se profesie oor die Ster en die Septer
Hoewel Bileam ’n heidense waarsêer was, gebruik God selfs hom om die waarheid uit te spreek. Hy is gehuur om Israel te vervloek, maar God draai sy mond, en sy woorde word profesieë van seën.
Een van sy belangrikste uitsprake is sy vierde profesie: ’n Ster en ’n septer sal uit Israel opgaan – ’n koninklike Messiaanse teken.
Numeri 24:17
“Ek sien hom, maar nie nou nie; ek aanskou hom, maar nie naby nie. ’n Ster kom op uit Jakob, en ’n septer staan op uit Israel.”
(Lees ook die verhaal van Bileam en sy donkie in Numeri 22. Nadat hy die donkie drie keer geslaan het, het die Here sy oë oopgemaak en kon hy die Engel sien wat die pad versper het.)
5. Moses se profesie oor die Groot Profeet
Moses self gee ’n belofte van die Here: Hy sal ’n Profeet verwek wat soos Moses is, en na Hom moet Israel luister. Hierdie profesie wys vooruit na die finale Middelaar – Jesus Christus.
Deuteronomium 18:15
“’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die Here jou God vir jou verwek; na hom moet julle luister.”
Slot
Dit bring ons aan die einde van vandag se gesprek. Ek vertrou dat dit jou geïnspireer het om die Bybel met groter diepte te lees, en dit toe te pas op jou eie lewe.
Ons is werklik geseënd dat ons die Bybel mag lees – en ek nooi jou uit om saam met my te bid vir die mense in lande waar Bybels nie toegelaat word nie.
Ek dank God saam met elkeen van julle vir die voorreg om ’n Bybel te hê – en om dit openlik te kan gebruik, selfs op jou selfoon of enige ander tegnologie.
Wees saam met my bly en opgewonde om meer tyd in God se teenwoordigheid en in Sy Woord deur te bring.
Voor ek totsiens sê herinner ek net aan die volgende:
Radio Kaapse Kansel
Jy kan gerus na my weeklikse uitsendings luister : Woensdae 13:30.
Terloops, het jy al Radio Kaapse Kansel se APP afgelaai uit jou PLAYSTORE? Indien nie – soek vir CapePulpit in jou PLAYSTORE – en luister enige plek, enige tyd.
Ek is Amanda Pool.
Shalom.
