DEEL 4

Welkom by vandag se gesprek.

Gebed

Kom ons bid saam en vra die Heilige Gees om ons ore, oë en harte oop te maak:


DANKIE HEILIGE GEES DAT ONS VANDAG DIEPER BEGRIP UIT DIE WOORD KAN LEER; DAT U ONS ORE, OË EN HARTE OOPMAAK. DANKIE JESUS DAT U MENS GEWORD HET EN TUSSEN ONS KOM WOON HET. DANKIE VIR U WOORD. AMEN.

Waaroor gaan die reeks?

Ons is by die vierde aflewering van hierdie reeks. Dit gaan oor profesieë in die Ou Testament oor Jesus Christus, sodat ons Hom dieper en direk uit Sy Woord kan leer ken.

Leef die Woord

Die inhoud van hierdie program is gegrond op God se Woord wat ons beveel om die Woord te lééf. Daarom haal ek graag weer Josua 1:8 (AFR20) aan:
“Hierdie wetboek mag nie van jou mond wyk nie; jy moet dit dag en nag oordink, sodat jy noukeurig kan doen volgens alles wat daarin geskryf is. Dan sal jy voorspoedig wees op jou pad en dan sal jy sukses hê.”

Let op die woord “oordink”: nie net lees en leer nie, maar lééf.

’n Waarskuwing uit die geskiedenis

Hoeveel van ons is dalk soos die Fariseërs van destyds? Hulle het die Skrif baie goed geken, maar Jesus nie raakgelees of as die Seun van God erken nie.

Iemand het vanoggend dit so gestel: “Om die Bybel te bestudeer verander ons nie; om Jesus te volg, doen.” Amen.

Wees gereed om rekenskap te gee

Ons leef in ’n wêreld waar baie mense skepties oor die Bybel is. Hoe dieper ons verstaan, hoe beter kan ons ons geloof met feite en sagmoedigheid verduidelik. 1 Petrus 3:15 (AFR20) sê:
“Maar heilig die Here Christus in julle harte; en wees altyd gereed om ’n verduideliking te gee aan elkeen wat van julle ’n rede vra vir die hoop wat in julle is, maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”

Kennis van feite en geskiedenis help ons om betekenisvol en geloofwaardig te antwoord, juis omdat ons Jesus as Verlosser aangeneem het.

Doel van die reeks

Om ons te help om meer te wéét en te verstaan wat die Ou Testament oor Jesus sê. Die koms van die Messias is herhaaldelik geprofeteer.

Miga

Voor ons by Daniël kom, begin ons vandag by die profeet Miga.
Miga 5:1 (AFR20):
“Maar jy, Betlehem Efrata, al is jy klein om te wees onder die talle van Juda, uit jou sal daar vir My Iemand uitgaan wat ’n heerser in Israel sal wees; sy oorsprong is uit die voortyd, uit die dae van die ewige verlede.”

Uit die “klein” Betlehem sou ’n Heerser kom wat oor Israel sou regeer. Dit is die nederige geboorteplek van die Koning. Miga het ongeveer tussen 742 en 687 v.C. geleef en geprofeteer. Chronologies kom hy dus vóór Daniël, al verskyn sy boek na Daniël s’n in die  Bybel.

Daniël

Daniël 7:13–14 (AFR20):
“Ek het in die naggesigte gekyk, en met die wolke van die hemel het Een gekom soos ’n seun van ’n mens; Hy het na die Oue van Dae gegaan, en hulle het Hom voor Hom gebring. Aan Hom is heerskappy, eer en koningskap gegee, en al die volke, nasies en tale het Hom gedien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie verbygaan nie, en sy koninkryk is een wat nie vernietig sal word nie.”

Waarom die beeldspraak “die Oue van Dae”?

• In die antieke Nabye Ooste was hoë ouderdom ’n simbool van gesag, wysheid en eerbied.
• Daniël gebruik dus ’n beeld wat sy eerste lesers onmiddellik sou verstaan: God is die hoogste, tydlose Koning bo die tyd en ryk. 
• Dit is beeldspraak: nie dat God fisies oud is nie, maar dat Hy die Een is wat alles voorafgaan.

Daniël se bediening val ongeveer tussen 605 en 536 v.C.

Slot en uitnodiging

Mag vandag se gesprek jou aanmoedig om die Bybel dieper te lees en prakties toe te pas. Ons is werklik bevoorreg om die Bybel vrylik te kan lees. Kom ons bid vir mense in lande waar Bybels nie toegelaat word nie. Ek dank God saam met julle vir die voorreg om ’n Bybel te hê en dit openlik te kan gebruik, selfs op ons selfone en ander tegnologie.

Wees bly en opgewonde om meer tyd in God se teenwoordigheid en in Sy Woord deur te bring. Ek sien uit daarna om volgende week weer met jou te gesels.

Uitsaai-inligting en kontak

Onthou: elke Woensdag om 13:30 kan jy saam luister na die wonderlike ontdekkings uit God se Woord.
Laai ook die Radio Kaapse Kansel-toep af. Soek net “Cape Pulpit” in jou Play Store.

Jy is welkom om op hierdie webblad te gesels (rol af na “Get in Touch / Leave a Message”) of ’n WhatsApp te stuur na 082 926 5062.

Ek is Amanda Pool.
Shalom.

 

Shopping Cart
Scroll to Top