BYBELSE MENTORSKAP
DEEL 1
WELKOM,
en baie dankie dat jy saam luister na die Radio Kaapse Kansel-uitsending van elke Woensdag om 13:30.
GEBED
Dankie, Heilige Gees, dat ons vandag weer dieper begrippe uit U Woord kan leer. En dat U ons ore, oë
en harte oopmaak, om dit wat ons vandag hier gaan leer, te ontvang. Dankie, Jesus, dat U mens geword het en tussen ons kom woon het. Dankie vir U Woord. Amen.
Inleiding
Die inhoud van hierdie program is gegrond op God se Woord en Sy opdrag om dit te bestudeer én daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie.
Soos ons kan lees in die Boek Josua, ná die dood van Moses het God direk met Josua gepraat, net soos Hy vandag ook direk met ons deur die Heilige Gees kan praat. En God vra van ons om Sy Woord naby ons te hou.
Josua 1:8 – NLV 2006
“Hierdie Boek van die Wet moet altyd op jou lippe wees, jy moet dit dag en nag oordink sodat jy
alles kan doen wat daarin geskryf staan. Dan sal jy voorspoedig wees en sukses hê in alles wat jy aanpak”.
Spreuke 4:20-22 – NLV 2006
“My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor na my woorde. Laat hulle nie uit jou oë verdwyn nie,
hou hulle diep in jou hart. Want hulle gee lewe aan dié wat hulle vind en gesondheid aan hulle hele liggaam”.
God se opdrag
God se opdrag aan Josua, en ook wat Salomo en ander in die Ou en in die Nuwe Testament geskryf het, geld vandag steeds, dus vir ons ook.
Ken ons die Woord, en volg ons Jesus?
Iemand het eenmaal gesê, ‘Studying the Bible does not transform us, following Jesus does.’
en dit het my laat dink, hoeveel van ons is dalk soos die Fariseërs van destyds. Hulle het die Skrifte geken, maar het nie Jesus gevolg nie.
Selfs Satan ken die Bybel. Onthou toe Jesus in die woestyn versoek is. Lees weer die volgende :
Matteus 4:5-7 – NLV
“As U die Seun van God is, sê hy, spring af. Daar staan tog geskryf, Hy sal sy engele opdrag gee om
U te beskerm, hulle sal U op hulle hande dra sodat U nie eers u voet teen ‘n klip stamp nie. Maar
Jesus antwoord hom, Daar staan ook geskryf, Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie”.
Satan het direk uit Psalm 91 aangehaal. Die woorde was reg, maar die bedoeling was verkeerd, en Jesus het dit reggestel deur die ware betekenis van die Skrif te verklaar.
Geloof en kennis
Omdat ons vandag in ‘n wêreld leef waar baie mense skepties staan teenoor die Bybel, is dit ook nog
‘n belangrike rede hoekom ons die dieper betekenis van wat in die Bybel geskryf is, moet verstaan.
Wanneer ons die Woord bestudeer, verstaan en ken, kan ons ons geloof beter verduidelik met waarheid en feite. Petrus skryf juis daaroor:
1 Petrus 3:15
“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord, maar doen dit met sagmoedigheid en respek”.
DEEL 1: Bybelse Mentors en Mentorskap
Ons reeks gaan juis oor meer intensionele studies en begrippe van mentorskap uit die Woord.
Hierdie reeks gaan nie net oor mentorskap nie, maar ook oor die mentee, die leerling wat deur sy mentor gevorm en gelei word.
En natuurlik begin ons hierdie reeks met Jesus Christus, die Volmaakte Mentor. Jesus Christus:
Die Volmaakte Mentor
Elke ware mentorskap in die Bybel begin en eindig by Jesus Christus. Hoekom kies ek Jesus as my Mentor:
- Hy is die oorspronklike voorbeeld van wat dit beteken om ander te lei, te vorm en te bemagtig om God se doel met hul lewens te vervul.
- Jesus het nie net onderrig gegee nie, Hy het geleef wat Hy geleer het.
- Hy het Sy dissipels genooi om met Hom te wandel, nie net om na Hom te luister nie.
- Hy het hulle geleer om te dien, te bid, te vergewe, te volhard en uiteindelik ander te leer om dieselfde te doen.
- Sy mentorskap was verhouding-gedrewe, voorbeeld-gedrewe en Gees-gedrewe.
- Hy het mense nie net voorberei vir aardse sukses nie, maar vir ewige roeping, om die Vader se wil te ken en uit te leef.
Matteus 4:19 – AKV 2023 –
Kom, volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak.
Jesus se voorbeeld
In Hom sien ons die volmaakte balans tussen gesag en sagmoedigheid, tussen onderrig en deernis, tussen leiding en diensbaarheid.
Elke ander Bybelse mentor, of dit Paulus, Moses, Naomi of Elia is,openbaar slegs gedeeltelik wat Jesus volkome openbaar het.
Hy is die lewende model van ware mentorskap, Hy spreek nie net woorde nie, Hy verander lewens.
Hiermee sluit ons eers af :
Ek vertrou dat jy vandag geïnspireer is om met nuwe ywer die Bybel te bestudeer, nie net vir
verdieping van jou kennis nie, maar ook vir die verstaan van die bedoeling daarvan. En, om dit toe te pas in jou eie lewe.
Hierdie lysie van redes waarom ons Jesus as die Volmaakte Mentor kan herken en erken in ons eie lewens, is maar gedeeltelik.
Dit is nou oor aan elkeen van ons om juis daardie gedeeltes van die Woord met nuwe ywer te lees, te oordink, te reflekteer en te mediteer.
Fokus om alles oor Jesus Christus te leer, te bestudeer, oor elke stukkie van elke versie te mediteer, te wagop Sy openbarings, dit toe te pas in my lewe, sodat ek meer en meer soos Hy kan wees, sagmoedig en nederig van hart, Hy nooi my uit:
Matteus 11:29 – AKV 2023 –
Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart.
Volgende episodes:
In die volgende episodes van Bybelse Mentorskap gaan ons leer uit die lewe van Paulus en ander
gelowiges en uit die mentorskap daarvan, sodat ons ook ander kan leer. Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met jou te gesels, op radio en ook in die volgende blog.
RADIO KAAPSE KANSEL APP :
Luister jy al Radio Kaapse Kansel se App? Indien nie, laai dit sommer nou af in jou slimfoon se
PlayStore en soek vir Cape Pulpit en installeer dit. Luister gerus elke Woensdag vanaf 13:30 na hierdie uitsendings.
Mag jou dag en jou week geseënd wees.
Ek is Amanda Pool.
Shalom.
Naskrif
Jy is so welkom om ‘n boodskap te stuur oor jou ervaring terwyl jy geluister en gelees het, en ook te SUBSCRIBE vir ons nuusbriewe en ander boodskapppe (ons skop daarmee af in 2026)
