DEEL 4 DIE MENS IN GENESIS en DAARNA

DEEL 4

 

DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA

 

Dankie dat jy weer inloer. Ons gaan vandag verder op ons reis in Genesis.

Kom ons bid eers saam.

Dankie Vader dat ons die Bybel in Afrikaans en in ander tale beskikbaar het. Ons is so dankbaar dat ons dit kan lees en bestudeer om meer van U te weet. Dankie dat ons die vryheid in ons land het om dit te kan doen. Amen.

 

Verlede keer het ons gesels oor ’n paar aspekte waaroor ons nuwe betekenis en openbaring ontvang wanneer ons die Bybel meer doelbewus lees.

Ons het by Genesis begin, by Jesus, en begin verstaan hoe die Drie-eenheid reeds van die begin af daar was.

Ons het afgesluit met God wat hartseer was oor die sondige mens en dat Hy spyt was dat Hy die mens gemaak het, maar dat Hy tog in Sy groot genade weer kanse aan die mens gee.

Hy is nie ’n God van net tweede kanse nie. Nadat Hy die bou van die toring van Babel gestop het, die verwarring van verskillende tale veroorsaak het en die mense oor die hele aarde verstrooi het, roep Hy vir Abram om ’n volk te lei.

“Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad. Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die hele aarde verwarring gebring, en van daar af het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi.”
Genesis 11:8-9

“Die Here het vir Abram gesê: Trek uit jou land uit en uit jou familie en uit jou vader se huis na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën die wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Genesis 12:1-3

Abraham word uitgebeeld as ’n patriarg. Dit is iemand wat ’n noue verhouding met God het, wat direkte openbarings en instruksies ontvang, en hy word ook deur God as ’n profeet beskryf, alhoewel sy rol nie dié van ’n klassieke profeet is nie.

Abraham was die vader van die Israelitiese nasie en ’n voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid.

Terwyl hy wel Goddelike boodskappe ontvang en met God kommunikeer, word hy nie in die Genesis-verhale beskryf as ’n profeet in die sin van die latere profete nie.

In Genesis 22 lees ons die verhaal van Abraham se bereidwilligheid om Isak, sy geliefde seun, te offer en God sy beste te gee.

“Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”
Genesis 22:2

“Toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het; en Abraham het gegaan en die ram geneem en hom as brandoffer geoffer in die plek van sy seun.”
Genesis 22:13

Hierdeur demonstreer hy die diepte van sy gehoorsaamheid, en dit wys vir ons die belangrikheid daarvan om God met ons hulpbronne en ons lewens te aanbid. Abraham se lewe dien vandag steeds as ’n voorbeeld van hoe ons geloof en dade ’n blywende nalatenskap kan wees.

Maar steeds luister die volk nie, en daar is steeds ongehoorsaamheid en sonde.

 

Ek voel lus om te sê, regtig, maar dan besef ek dit is steeds vandag so. God het die mens geskep vir Sy vreugde en om aan Hom gehoorsaam te wees, en tog gaan ongehoorsaamheid en sonde voort. Hoeveel kanse kan ons van God verwag.

Vanoggend maak my eie pastoor Henry Pike hierdie opsomming van hoe ons baie keer dink.

Jesus se geduld met ons is nie goedkeuring om ongehoorsaam te bly nie.

 

Liewe luisteraar, is jy gereed om, wanneer God jou roep, gehoorsaam te wees soos Abraham, en is jy bereid om alles te doen wat God vra, hoe groot of hoe klein ook al.

Dis al wat Hy vra.

Na Abraham kan ons die storie in die Bybel volg tot by die totstandkoming van die volk Israel. God begin met Abraham en maak ’n verbond met hom.

“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.”
Genesis 17:7

Abraham se seun Isak ontvang dieselfde verbond en die lyn van die belofte word voortgesit.

Dan kom Jakob, en hier gebeur ’n sleutelgebeurtenis.

“Toe sê Hy: Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, maar Israel, want jy het met God en met mense geworstel en jy het oorwin.”
Genesis 32:28

Jakob kry twaalf seuns, en hulle word die vaders van die twaalf stamme van Israel.

Die nageslag van Israel word toe die Israeliete genoem, die kinders van Israel.

Om te verstaan hoe ander bevolkingsgroepe ontstaan het tydens en ná Abraham, moet ons onthou dat die lyn so verloop.

Abraham, Isak, Jakob, wat Israel genoem word.

 

Daar was egter ook ander groepe,

 

maar God het hulle nie in Sy verbond met Abraham ingesluit nie.

 

Hierdie groepe sluit onder andere die Ismaeliete, die Edomiete, die nageslag van Ketura, die Kanaäniete, die Egiptenare, die Babiloniërs en Assiriërs en ander Semitiese volke in.

Israeliete is spesifiek net die nageslag van Jakob, en dit is ’n verbondslinie, nie net ’n familie-lyn nie.

Reeds vroeër sien ons dat die hele wêreld bevolk word.

“Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle geslagte, in hulle nasies; en uit hulle is die nasies op die aarde verdeel ná die vloed.”
Genesis 10:32

Die verbond is selektief, maar nie eksklusief in liefde nie.

God kies Abraham, Isak en Jakob, maar Hy seën ook ander nasies en Hy regeer oor almal.

“En Ek sal seën die wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Genesis 12:3

Volgende keer gesels ons meer hieroor.

Ek gesels elke week op ’n Woensdag op Radio Kaapse Kansel. Daar is ook heruitsendings op ander dae.  Skakel gerus in met die app wat jy van die Playstore kan aflaai, Cape Pulpit, op jou selfoon.

Enige kommentaar is welkom. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik per WhatsApp aan my stuur by 0829265062.

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.

Shalom

Shopping Cart
Scroll to Top