DEEL 5
Jesus Christus self het by herhaling gesê dat Hy gekom het om die profesieë van die Ou Testament te vervul:
Matteus 5:17–18
“Moenie dink Ek is gekom om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek het nie gekom om hulle af te skaf nie, maar om hulle te vervul. Ek verseker julle: Solank die hemel en die aarde bestaan, sal nie ‘n enkele letter of leesteken uit die wet verdwyn voordat alles vervul is nie.”
Joshua 1:8:
“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; jy moet dit dag en nag oordink, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskryf is.”
JOËL het geprofeteer oor die Dag van die Here, mense tot bekering geroep en herstel belowe. Sy profesie beklemtoon die belangrikheid van geestelike ontwaking en die uitstorting van God se Gees.
Vervulde profesieë:
In Joël 1:4–20 en 2:1–11 beskryf Joël ‘n verwoestende sprinkaanplaag wat deur sommige letterlik en deur ander as ‘n metafoor vir militêre inval geïnterpreteer is. Ongeag die interpretasie lê die klem op bekering en herstel — ’n tema wat deur die geskiedenis heen relevant gebly het.
Verder verwys die profesie van die Dag van die Here na ’n tyd van oordeel én herstel. Dit word gesien as gedeeltelik vervul in verskeie historiese gebeure, maar het ook nog toekomstige eskatologiese implikasies.
Eskatologiese implikasies:
Die woord “eskatologie” kom van die Antieke Griekse woord ἔσχατος (éskhatos), wat “laaste” beteken. Dit verwys na verwagtinge oor die voleinding van die huidige tyd, die menslike geskiedenis, of selfs van die wêreld self.
‘n Sinoniem is: voleinding.
Onvervulde profesie:
Een van die belangrikste onvervulde profesieë in Joël is die uitstorting van God se Gees op alle mense — soos beskryf in Joël 2:28–32.
Hierdie profesie spreek van ’n toekomstige tyd wanneer God sy Gees op alle mense (“alle vlees”) sal uitstort, wat profetiese gawes, drome en visioene sal meebring.
Hoewel Handelinge 2:16–21 gesien kan word as ’n gedeeltelike vervulling — toe Petrus voor die Jode getuig het van die uitstorting van die Heilige Gees — glo baie van ons dat die volle vervulling nog in die toekoms lê, veral in die konteks van die eindtye.
Handelinge 2:17–18
“En dit sal in die laaste dae gebeur, sê God: Ek sal van my Gees uitstort op alle mense. Julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle jongmanne sal gesigte sien, en julle ou mense drome droom. Selfs op my diensknegte en diensmaagde sal Ek daardie dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.”
Lees asseblief die hele Handelinge 2 vir die volledige konteks.
Ten slotte:
Dis inderdaad opwindend om soveel openbarings van God se Woord te ontvang, en om te leer om al hoe meer in Sy teenwoordigheid te leef. Laat ons ook oop bly vir hedendaagse getuienisse — en hoe mense se lewens drasties verander word.
Jy kan na my uitsendings op Radio Kaapse Kansel luister – elke Woensdag net na 14H30
Laai gerus die toepassing af om na die radio stasie te luister. https://capepulpit.co.za/
Tot ‘n volgende keer
SHALOM
AMANDA
PS
Volgende onderwerpe
Die volgende paar weke se boodskappe – soos die Vader wil- gaan oor
- Die persoonlike lering van heilige lewenswandel en ons optrede as kinders van God.
- Nog ‘n paar van die ou Testamentiese profete se lewenswandel en profesieë direk van God af – met die toepassing en aanwending daarvan in ons hedendaagse lewens.
- Die studie om die Christelike geloof met goeie redes, verduidelikings en antwoorde te verdedig teen vrae, kritiek of twyfel. (Apologetics)
Hou gerus dop.
