GOD PRAAT DEUR MENSE

DEEL 10

 

Voor ons gesels : Dit is altyd goed om net weer te bevestig waar die Skrif vandaan kom – en Paulus antwoord daardie vraag baie duidelik:

2 Tim 3:16-17 in die Boodskap-vertaling:

    1. Die hele Skrif kom direk van God af.
    2. Daaruit kan ons so baie leer.
    3. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help.
    4. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef.

Vers 17: Op dié manier sal iemand wat aan God behoort, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.

Ons gesels vandag oor die openbarings wat deur AMOS en ook oor OBADJA ontvang is:

AMOS

Hy was nie jou gewone profeet nie – hy het nerens gestudeer of in ʼn leiersposisie gedien nie; net ʼn veeboer. Tog het God hom gebruik en hom uit JUDA, waar hy gewoon het, na ISRAEL gestuur. God was glad nie tevrede dat die mense se regte geminag is en dat die leiers in weelde geleef het ten koste van ander nie – dit klink nogal bekend, nè? Dit gebeur steeds vandag!

Daar word oordeel aangekondig oor al die nasies rondom Israel én oor Israel self, maar kom ons fokus op ISRAEL:

Israel het in daardie tyd, ongeveer 760 v.C., ekonomies voorspoed beleef. Maar baie van hierdie voorspoed het plaasgevind omdat mense uitgebuit en verontreg is.

Amos se boodskap, wat hy van God ontvang het, is dat Hy hierdie vooraanstaande mense in Israel gaan straf. Die straf kom omdat hulle op mense neergesien het.

Dit beteken dat mense in magsposisies reg moet optree – ons kan nie onsself bevoordeel ten koste van ander nie. Ons leef dan nie volgens die verantwoordelikhede waartoe God ons geroep het nie.

Amos 4:11
So sê die Here van Israel: Vra na My wil, dan sal julle lewe. … Vers 6: Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here Juda soos ʼn vuur tref.

Amos 9:11

sê God egter deur Amos aan ISRAEL:
“Ek, die Here, hou die sondige koninkryk dop – Ek gaan hom wegvee van die aarde af! MAAR TOG :  Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal uitroei nie.”

Ons is ook deel van die nageslag van Juda, en daarom is hierdie boodskap ook vir ons.

 Sjoe – nogal diep, nè?

Dit laat my dink aan ʼn onlangse boodskap wat ek op sosiale media gelees het:

WHAT THE WORLD CALLS CHAOS —- GOD CALLS PROPHECY.
THINGS ARE NOT FALLING APART – THEY ARE FALLING INTO PLACE…

AMAZING!

Amos is ʼn kort boek, maar baie kragtig. Sy profesieë dien as ʼn herinnering aan God se geregtigheid en die belangrikheid van nederigheid.

Alhoewel hierdie boek ʼn mens ongemaklik kan maak wanneer jy dit lees, toets dit jou geloof – MAAR TOG: dit bied ook hoop vir elkeen wat opreg na die wil van God vir sy lewe soek.

Amos 9:14–15   – AKV 2023
“Ek sal die lot van My volk Israel verander. Hulle sal die verwoeste stede herbou en bewoon; wingerde plant en die wyn daarvan drink; tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal hulle in hulle grond plant, en hulle sal nooit weer uit hulle grond uitgeruk word wat Ek aan hulle gegee het nie,” sê die Here jou God.

Wat beteken dit? Kom ons hoor wat die navorsers en skrywers oor die interpretasie van die Bybel sê:

Alhoewel daar ʼn fisiese terugkeer van Israel na die land plaasgevind het (bv. stigting van Israel in 1948), beskou baie hierdie profesie as nog nie ten volle vervul nie, aangesien dit ʼn permanente vrede en regverdigheid insluit wat nog nie sigbaar is nie.

Iets om oor na te dink, nè?

 

OBADJA

Obadja is die kortste boek in die Ou Testament. Alhoewel dit slegs uit 21 verse bestaan, is dit geskryf vol beelde – poëties soos ʼn gedig.

Obadja het geprofeteer oor God se oordeel oor Edom en die nasies (almal geografies rondom Israel) om God se soewereiniteit te beklemtoon.

Hoeveel profesieë het Obadja ontvang?

Afhangend van hoe mens dit klassifiseer, kan ons sê:

    • Hy het 1 primêre visioen ontvang.
    • Hierdie visioen bevat ± 10–12 unieke profetiese aankondigings.
    • Hierdie aankondigings sluit in: oordele, redes vir oordeel, beloftes van herstel, en uitsprake oor die Dag van die Here wat nog moet kom!

Obadja 1:15 -AKV 2023

“Want die dag van die Here is naby vir al die nasies. Soos jy gedoen het, so sal met jou gedoen word; jou dade sal op jou eie kop neerkom.”

Skrywers en navorsers het baie oor vers 15 geskryf. Byvoorbeeld in die John MacArthur Study Bible :

“This verse expands the scope of judgment beyond Edom to all nations. God will judge all who oppose Him and His people.”

MacArthur sien hierdie vers as ʼn skuif van plaaslike oordeel na die openbaring van God se universele eindgebeure – en sluit ons dus almal in!

Obadja se profesie dien as ʼn herinnering aan God se geregtigheid en die belangrikheid van nederigheid – vir ons vandag.

Hierdie is dus ʼn profetiese waarskuwing:
Dit is ʼn oproep tot bekering voor die dag van oordeel aanbreek – ʼn oproep tot volle oorgawe!

Amos en Obadja is maar 2 skrywers van die vele profesieë wat daarop neerkom:

BEKEER JULLE!

En daarmee saam kom die opdrag :

 Matt 28:19:
“Gaan dan heen, maak dissipels van ALLE NASIES en doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.”

AMEN.

Hiermee sluit ek dan af tot ʼn volgende keer.

Jy is welkom om my te laat weet hoe hierdie reeks jou persoonlik gehelp het om in jou verhouding met Jesus Christus te groei en om die Heilige Gees te ervaar as jou Helper.

Onderaan hierdie bladsy is ‘n plekkie waar jy vir my ‘n boodskap kan stuur – jy is ook welkom om ʼn WhatsApp te stuur aan  082 926 5062.

Ten slotte:

Dit is inderdaad opwindend om soveel openbarings van God se Woord te ontvang en om te leer om al hoe meer in Sy teenwoordigheid te leef. Laat ons ook oop bly vir hedendaagse getuienisse – en hoe mense se lewens drasties verander word.

Luister gerus na my uitsendings op Radio Kaapse Kansel  – elke Woensdag net na 13:30. Soek die toepassing (app) op jou slimfoon se Play Store: soek vir CAPE PULPIT en luister enige tyd, enige plek.

Tot ʼn volgende keer.

SHALOM
AMANDA

Shopping Cart
Scroll to Top