GOD PRAAT DEUR MENSE
DEEL 11
In ons reeks GOD PRAAT DEUR MENSE, het ons die afgelope paar weke gesels oor verskillende Bybelse profete se opdragte en profesieë.
Ek het ook ’n paar van my eie ervarings met julle gedeel.
Vandag gesels ons oor Jona se opdrag en profesieë.
Voordat ek begin, wil ek julle aanmoedig om self ’n studie te maak van die verhale uit die Bybel, sodat julle ’n dieper begrip kan kry van wat dit beteken om God se stem te hoor. Gebruik dit wat jy lees – of liewer leer – om God se opdrag(te) in jou eie lewe toe te pas.
Hoe meer tyd ons in die Woord spandeer, hoe dieper groei ons verhouding met Jesus Christus.
Eintlik is dit baie eenvoudig: hoe meer ons onsself verdiep in God se Woord, hoe meer openbarings en insigte ontvang ons, en hoe makliker raak dit om die “goue draad” van God se werk in ons lewens raak te sien.
In Engels praat ons van ‘n tapestry:
“God’s Word weaves a living tapestry of wisdom and experience through our lives.”
Vrylik vertaal:
“Die Here borduur ’n ryk tapisserie van genade en groei deur ons lewens.”
Die geheim om dit ook self te ervaar, is om aanhoudend en doelbewus tyd in Sy Woord te spandeer.
Wat regtig besonders is, is dat God jou dikwels ontmoet op die presiese oomblik wanneer jy Sy boodskap die nodigste het – Hy gee leiding, antwoorde en bevestiging juis wanneer jy dit nie verwag nie.
Jona – ‘n Praktiese Voorbeeld
Jona is ’n baie praktiese voorbeeld om bogenoemde beginsels te verstaan.
God gee vir Jona ’n opdrag om na die stad Nineve te gaan en teen hulle boosheid te profeteer. Maar Jona wil nie gehoorsaam wees nie – hy vlug in die teenoorgestelde rigting en klim op ’n skip wat na Tarsis oppad is, ver van Nineve af. Hy het waarskynlik gedink hy is nou “ontslae” van hierdie opdrag.
Dan volg die bekende verhaal van die storm, Jona wat oorboord gegooi word, en die see wat bedaar. Daarna stuur God ’n groot vis (die Hebreeuse term dag gadol – wat ook “groot seediere” kan beteken) wat vir Jona insluk. Hy is drie dae en drie nagte in die maag van die vis.
Hoewel wetenskaplikes tereg uitwys dat die biologiese struktuur van meeste seediere oorlewing vir ’n mens onwaarskynlik maak, is daar uitsonderings. Sekere potvisse het byvoorbeeld groot slukderms, maar die gebrek aan suurstof en die teenwoordigheid van maagsure sal menslike oorlewing baie moeilik maak.
Maar – God, as Skepper van die natuurwette, kan dit opskort wanneer Hy kies om iets bonatuurliks te doen.
Sommige Bybelgeleerdes sien die Jona-verhaal as simbolies:
- Die vis simboliseer die dood of graf, en die drie dae dui profeties op Jesus se dood en opstanding.
- Dit dien as ‘n beeld van God se genade, selfs teenoor dié wat Hom teenstaan.
Ander glo weer dat dit ’n letterlike, historiese gebeurtenis was – versterk deur Jesus se verwysing daarna as profetiese feit in Matteus 12:40:
“Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die mens, drie dae en drie nagte in die graf wees.”
— Matteus 12:40, Die Boodskap
Jona se gebed en bekering
In die maag van die vis bid Jona tot God. Hy is dankbaar dat God hom nie laat vergaan het nie, en erken God se genade en redding.
Na drie dae beveel God die vis om vir Jona op die droë grond uit te spoeg. God herhaal toe sy opdrag – en hierdie keer luister Jona. Hy vertrek na Nineve.
Nineve se reaksie
Jona het die stad binnegegaan en vir ’n dag lank rondgeloop terwyl hy verkondig het dat die stad oor 40 dae verwoes sou word (Jona 3). Die mense het begin glo in God – selfs die koning het ’n proklamasie uitgevaardig dat almal rouklere moes aantrek en tot God moes bid. God het die stad toe gespaar.
Maar Jona was ontevrede daaroor. Hy het selfs gesê dit sou beter wees as hy eerder sterf!
God Leer Jona ’n Les
Jona het buite die stad gaan sit, onder ’n selfgemaakte skerm, om te kyk wat met die stad sou gebeur. God het ’n plant laat opskiet om vir hom skadu te gee. Die volgende oggend het God ’n wurm gestuur wat die plant vernietig het. Toe die son warm skyn en ’n oostewind waai, het Jona moedeloos geraak en weer gesê hy wil eerder sterf.
God antwoord hom (Jona 4:5–8, Die Boodskap):
Jy was ontsteld oor ’n plant, maar nie oor die meer as 120 000 mense van Nineve nie?
Hier leer ons dat God nie net fokus op die sukses van ’n sending nie, maar ook op die hartsgesteldheid van Sy dienskneg. Jona moes leer:
- Dat God se genade groter is as sy eie verwagtinge.
- Dat God sy karakter wou vorm – in deernis, sagmoedigheid en perspektief.
God gee nie net om oor wat jy vir Hom doen nie, maar oor wie jy is.
God se roeping is nooit toevallig nie. Selfs al probeer jy weghardloop, sal Hy maniere vind om jou terug te bring na die pad wat Hy vir jou bedoel het – dikwels deur moeilike omstandighede of innerlike onrus.
Liewe vriend of vriendin, jy speel ’n spesifieke rol in God se groter verlossingsplan. Selfs al verstaan jy nie die impak van jou opdrag nie, gebruik God dit om iets groters te doen as wat jy kan sien.
Ware vryheid kom deur onderwerping aan Sy wil. Al voel dit vreemd of teenstrydig met jou eie planne, is gehoorsaamheid aan God altyd die pad na betekenis en impak.
Jona se verhaal leer ons: Jy kan nie van God se roeping wegvlug nie.
Laat Jou Stem Hoor
Laat my asseblief weet hoe hierdie reeks jou persoonlik gehelp het om in jou verhouding met Jesus Christus te groei, en om die Heilige Gees as jou Helper te ervaar. Daar is ’n plekkie op die hoofbladsy van die BLOGS waar jy kommentaar kan lewer, of stuur ’n WhatsApp aan 082 926 5062.
Ek groet tot ’n volgende keer. En indien jy dit nog nie gedoen het nie – laai gerus Radio Kaapse Kansel se toep af (APP). Gaan na jou slimfoon se Play Store, soek dit daar en luister elke Woensdag net ná 13:30.
Mag jy God se goedheid kragtig ervaar en altyd in gehoorsaamheid aan Hom bly wandel.
Tot ‘n volgende keer
SHALOM
AMANDA
