BOME IN MY STILTETYD...
Ek het die voorreg om meeste oggende heeltemal alleen by my huis te wees. Ek het ʼn spesifiek plekkie waar ek buite kan sit, met baie bome rondom my – of liewers, die boomtoppe van my bure wat hoog bokant die sementmure wat ons erf omhein, uisteek.
Ek neem my Bybel, joernaal/notaboek, skryf ding en goeie koffie en sit dan heerlik in die koel oggend briesie.
ʼn Hele ruk gelede het al ek opgemerk, alhoewel daar meeste oggende geen wind was nie, was daar een boom – ‘n tipe van ʼn palm boom, wie se blare ALTYD liggies beweeg het. En elke keer het ek dit as bevestiging gesien dat Heilige Gees teenwoordig is, en dat Hy wag om met my te praat en dat ook met Hom kan praat.
Dit is steeds die kosbaarste oomblik van my dag.
Een oggend was daar egter GEEN beweging nie – ek was regtig hartseer met die besef daarvan – ek haal graag aan wat ek daardie oggend in my joernaal geskryf het :
“Heilige Gees – Vanoggend is die boom stil, dit beweeg nie – is my ervaring van die wind dan verkeerd?”
Ek ervaar dadelik spontane gedagtes – in Engels – ek vertaal graag :
“ Eerstes, My dogter, Ek is in jou en nie in die wind nie. Ek is hier by jou en in jou. Ek is jou Helper, jou gids en jou trooster – omdat jy Jesus Christus as jou Here en Verlosser aangeneem het. Soms ervaar jy my dalk sigbaar in die wind, maar ervaar My eers in JOU, Ek help om jou gedagtes te vernuwe. Ek sal help !”
Skielik was dit stil ….
Om Heilige Gees as ʼn vriend te hê is die grootste geskenk! Vir ons wat Jesus ken en Hom as ons Here en Verlosser aanvaar het, het Hy belowe Heilige Gees sal ALTYD met ons wees.
Na hierdie oggend het ek in meer diepte gaan soek wat die Bybel vir ons vertel oor stil wees met God. Oor stilte en alleentyd met Hom, Jesus en die Heilige Gees:
Ek haal graag aan vanuit die Kontemporêre Bybel 2023 is in Afrikaans (ook in ʼn hele paar ander tale beskikbaar)
Psalm 46:10 (In sommige Afrikaanse vertalings is dit vers 11):
“Wees stil en weet dat Ek God is…”
Matteus 6:6 :
“As jy bid, gaan dan na ‘n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader.”
Markus 1:35
“En in die môre, ‘n lang tyd voor die dag, (het Hy Jesus) opgestaan, het hy uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid…”
Lukas 5:16 :
“En hy het hom in die woestyn teruggetrek en gebid. “
Psalm 62:1:
“Waarlik, my siel wag op God, van Hom kom my heil…”
Om stil oomblikke alleen saam met God deur te bring, kan diep verrykend en vreedsaam wees.
Ons groei nie net dieper in ons verhouding met die Vader, Jesus Christus en Heilige Gees nie – maar ook in begrip en verstaan van die Woord. Hoe meer tyd ons in stilte in Sy Woord spandeer, hoe meer openbarings ontvang ons. Heilige Gees het al soveel begrippe en verstaan oopgebreek, dat ek regtig nie kan wag om elke dag in stilte by Sy voete en Sy Woord te gaan sit nie.
Dis wat God van ons vra – hoekom dink julle? Om Jesus Christus te verheerlik – dit is goed en aangenaam die Vader – “ To be well pleasing to God “
Soms kan ons voel ons lewens is te besig – dit is jou keuse om tyd te maak – Heilige Gees vernuwe ons denke en ek glo werklik dat ons daarom sal weet hoe om ons stiltetyd eerste te stel.
Is jy in ʼn besige huishouding
en voel jy het nie privaatheid nie : ek vertel altyd baie graag hierdie storie wat kan help met die HOE.
Hierdie is ʼn ware storie John en Charles Wesley se moeder :
Hierdie 2 was broers wat die Metodistebeweging gestig het en word beskou as van die mees noemenswaardige evangeliste in die geskiedenis. Dit was in die 17 de eeu …
Hulle moeder – Susanna het haar verhouding met God net so ernstig opgeneem as wat sy haar pligte as vrou en ma gedoen het.
Vroeg in haar lewe het sy belowe dat sy nooit meer tyd aan ontspanningsvermaak sal spandeer as wat sy aan gebed en Bybelstudie gedoen het nie. Selfs te midde van die mees komplekse en besige jare van haar lewe as ‘n ma, het sy steeds twee ure elke dag geskeduleer vir gemeenskap met God en tyd in Sy Woord, en sy het getrou by daardie skedule gehou. Die uitdaging was om ‘n plek van privaatheid te vind in ‘n huis vol kinders.
Sy het 19 kinders gehad waarvan 9 op jong ouderdomme oorlede is.
Moeder Wesley se oplossing hiervoor was om haar Bybel na haar gunsteling stoel te bring en haar lang voorskoot oor haar kop te gooi en ‘n soort tent te vorm.
Dit het iets geword wat soortgelyk is aan die “tent van samekoms”, die tabernakel in die dae van Moses in die Ou Testament.
Elke persoon in die huishouding, van die kleinste kleuter tot die oudste huishulpe, het goed geweet om hierdie sein te respekteer.
Terwyl Susanna onder die voorskoot was, was sy by God en moes sy nie gesteur word nie, behalwe in die geval van die ergste nood. Daar, in die privaatheid van haar tentjie, het sy vir haar man en kinders ingetree en die diep geheimenisse van God in die Skrif vasgelê.
Ek sluit hiermee af – ek sien uit daarna om weer in die toekoms met julle te gesels en meer van my oomblikke van openbaring tydens my stilte tyd met julle te deel.
SHALOM
