BYBELSE MENTORSKAP
DEEL 5
WELKOM,
, en baie dankie dat jy hierdie BLOG lees. Ek vertrou dit gaan jou inspireer.
GEBED
Dankie, Heilige Gees, dat ons vandag weer dieper begrippe uit die Woord kan leer, dat U ons ore, oë en harte oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer.
Dankie, Jesus, dat U mens geword het en tussen ons kom woon het.
Dankie vir U Woord.
Amen.
INLEIDING en
HOEKOM BESTUDEER ONS DIE BYBEL
Ek bevestig weer dat die inhoud van hierdie reeks gebaseer is op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie.
God praat op verskeie plekke in die Skrif met ons en herinner ons om die Woord te leer en te oordink, soos in Spreuke.
Spreuke 4:20 tot 22
“20 My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê.
Bly daarop ingestel om na my woorde te luister.
21 Laat dit nie uit jou sig verdwyn nie. Bewaar dit diep in jou hart. 22 Want dit gee lewe vir die een wat dit vind en bring genesing vir sy hele liggaam”.
Wanneer ons die Woord intens bestudeer, ontvang ons openbaringskennis en kan werklik leef soos wat die Woord bepaal.
Boonop leef ons in ’n wêreld waar baie mense skepties is oor die Bybel. Hoe meer ons dus die Woord bestudeer, hoe meer openbaringskennis ontvang ons en hoe beter kan ons ons geloof verduidelik,
Soos Petrus skryf in 1 Petrus 3:15
“… eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. .”
Kolossense 3:16
“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon, in alle wysheid.”
LEEF ALTYD in hierdie wysheid en onder die leiding van Heilige Gees.
____________________________________________________________________________
TERUGBLIK OP DIE REEKS
• DEEL 1: Jesus Christus: die Volmaakte Mentor.
• DEEL 2: Paulus en Timoteus: die voorbeeld van geestelike mentorskap.
• DEEL 3: Paulus en Timoteus: meer beginsels van Paulus se leer aan Timoteus.
• DEEL 4: Paulus en Timoteus: leer verdieping van dié beginsels: volharding, die Woord, liefde, waarheid en geduld.
________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
DEEL 5
Die brief aan Titus is een van Paulus se drie “pastorale briewe” (1 Timoteus, 2 Timoteus en Titus). Dit is geskryf nadat Paulus en Titus saam die evangelie op die eiland Kreta verkondig het. Nadat verskeie mense tot geloof gekom het, het daar klein huiskerke ontstaan.
Paulus het Titus op Kreta agtergelaat met ’n baie belangrike opdrag: om orde te bring, leiers aan te stel en die jong gelowiges geestelik te versterk.
Kreta was nie ’n maklike plek nie. Die mense was bekend vir harde harte, onsedelikheid, leuens en ’n chaotiese leefstyl. Paulus beskryf hulle geskiedenis selfs met ’n plaaslike gesegde wat almal geken het.
Maar juis daar, in ’n moeilike kultuur, moes Titus die lig van Christus laat skyn.
Hier volg gedeeltes waar Paulus vir Titus geleer het hoe om die geestelike leier te wees. Ons kan dit vandag ook aanneem en toepas in ons eie lewens, en ook wanneer ons ander leer.
Titus 1:5
“Ek het jou in Kreta agtergelaat om te sorg dat julle die dinge wat nog gedoen moet word, afhandel, en om in elke dorp ouderlinge aan te stel soos ek jou opgedra het.”
Paulus het ’n onwrikbare vertroue in Titus gehad, om die orde te bring, strukture te vestig en geestelike volwassenheid aan te help. Paulus laat toe dat Titus in daardie ruimte kan groei in sy geestelike verantwoordelikheid.
Titus 1:7
“’n Ouderling moet ’n voorbeeldige lewe lei, want hy is ’n bestuurder van God se werk. Hy moet nie eiesinnig wees nie, nie gou kwaad word nie, nie aan drank verslaaf wees nie, nie bakleierig wees nie en nie op geld ingestel wees nie.”
Leiers moet onberispelike karakter hê. Paulus leer Titus dat dit die eerste vereiste vir ’n leier is, nie talent, posisie of invloed nie, maar ’n onberispelike karakter.
Titus 2:1
“Maar jy, Titus, moet die soort lering gee wat ooreenstem met gesonde, suiwer leer.”
Dit is ’n pilaar van Paulus se lering aan Titus, en hy moes op sy beurt die gesonde leer verdedig en oordra. Wanneer ons ander bedien en leer, gaan ons altyd terug na die onveranderlike Woord van God.
Titus 2:2–3
“Leer die ouer manne om nugter en waardig te leef, verstandig en sterk in hulle geloof, liefde en volharding.
Net so moet jy die ouer vroue leer om in hulle gedrag heilig te wees. Hulle moet nie kwaadpraat nie en nie verslaaf wees aan te veel wyn nie. Hulle moet jonger vroue leer wat goed is.”
Geestelike volwassenheid vir elke generasie kom van die kennis van God se Woord, oorgawe aan Jesus Christus en leiding van die Heilige Gees. Dit is die ware beeld wat ons, as die dissipels van Jesus, moet volg, en ook aan ander leer wat dissipelskap is, om ander so te bedien, dat hulle groei in geestelike volwassenheid, sodat hulle weer ander kan leer.
God se genade vorm ons karakter.
Titus 2:7–8
“Laat jou eie lewe ’n voorbeeld wees van goeie werke. Laat alles wat jy doen, met integriteit en waardigheid gedoen word. Jou lering moet suiwer en onaanvegbaar wees, sodat jou teenstanders beskaam staan met niks slegs om van jou te sê nie.”
Titus 2:11–12
“Want die genade van God het aan alle mense verskyn en bring redding.Dit leer ons om afstand te doen van goddelose leefwyses en wêreldse begeertes, en om selfbeheersd, opreg en godvrugtig in hierdie wêreld te leef.”
Ons leer ook om te bedien, en om gelowiges te ondersteun in hulle groei na volwassenheid, en om deur genade ’n nuwe lewe te leef.
OWERHEDE en REGERING
Titus 3:1
“Herinner die gelowiges om hulle aan die regering en owerhede te onderwerp. Hulle moet gehoorsaam wees, altyd bereid om te doen wat goed is…”
Hierdie baie duidelike opdrag is een wat gelowiges soms mee sukkel. Sou jy ook hier vashaak, lees gerus ander gedeeltes in die Bybel oor dieselfde opdrag:
Romeine 13:1–2:
Laat elke mens hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is, want daar is geen owerheid behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel. Daarom: wie hom teen die owerheid verset, weerstaan die instelling van God.
1 Petrus 2:13–14:
Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike instelling, of dit die koning as hoogste gesag is, of die goewerneurs as deur hom gestuur om die wat kwaad doen te straf en die wat goed doen te prys.
Spreuke 24:21: My seun, eer die Here en die koning; meng jou nie met dié wat opstand maak nie.
Uit al hierdie geskrifte is en bly dit duidelik dat dit God se opdrag aan ons almal is en dat:
- • God self regeerders toelaat en instel.
• Gelowiges moet respek, orde en gehoorsaamheid handhaaf.
• Ons onderwerping is dus om God te eer, en gehoorsaam te wees aan Hom, en nie net ter wille van mense nie.
• Selfs wanneer ons nie saamstem nie, bly ons gedrag ’n getuienis van Christus se karakter.
’n Mentor help gelowiges om hulle geloof uit te leef in die praktyk: in die samelewing, in werk, in gesag en in liefde.
Ter afsluiting en opsomming:
Paulus se mentorskap aan Titus wys vir ons hoe God leiding, wysheid en geestelike groei bring, selfs in moeilike omstandighede. Dit vorm die fondament van elkeen van ons, in ons persoonlike en gesinslewens, en ook wanneer ons ander bedien.
Ek vertrou dat jy geïnspireer is om by hernuwing die Bybel met ywer en oortuiging te bestudeer, nie net vir die kennis alleen nie, maar vir die bedoeling daarvan, en dit toe te pas op jou eie lewe.
RADIO KAAPSE KANSEL
Jy kan na my uitsending op Radio Kaapse Kansel luister, elke Woensdag 13h30. Kry dus gou jou slimfoon, gaan na Playstore, soek vir CAPE PULPIT en laai af!!
Mag jou dag en week geseënd wees,
Ek is Amanda Pool.
Shalom.
