BYBELSE MENTORSKAP
DEEL6
WELKOM,
en baie dankie dat jy hier lees.
Hierdie gesprek was/sal op 17 Des 2025 op Radio Kaapsel Kansel uitgesaai word op 729 AM.
GEBED
Dankie Heilige Gees dat U ons ore, oë en harte oopmaak vir die waarheid van die Woord. Dankie Jesus dat U tussen ons kom woon het en dat U Woord vandag nog ons lewens verander. Amen.
INLEIDING en
HOEKOM BESTUDEER ONS DIE BYBEL
Ek bevestig weer dat die inhoud van hierdie reeks gebaseer is op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie.
God praat op verskeie plekke in die Skrif met ons en herinner ons om die Woord te leer en te oordink, soos in Spreuke.
Spreuke 4:20 tot 22
“20 My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê.
Bly daarop ingestel om na my woorde te luister.
21 Laat dit nie uit jou sig verdwyn nie. Bewaar dit diep in jou hart. 22 Want dit gee lewe vir die een wat dit vind en bring genesing vir sy hele liggaam”.
Wanneer ons die Woord intens bestudeer, ontvang ons openbaringskennis en kan werklik leef soos wat die Woord bepaal.
Boonop leef ons in ’n wêreld waar baie mense skepties is oor die Bybel. Hoe meer ons dus die Woord bestudeer, hoe meer openbaringskennis ontvang ons en hoe beter kan ons ons geloof verduidelik,
Soos Petrus skryf in 1 Petrus 3:15
“… eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. .”
Kolossense 3:16
“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon, in alle wysheid.”
LEEF ALTYD in hierdie wysheid en onder die leiding van Heilige Gees.
_______________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
Ons is besig met ’n reeks oor Bybelse Mentors en Mentorskap.
TERUGBLIK OP DIE REEKS
DEEL 1 Jesus die Volmaakte Mentor
DEEL 2 Paulus en Timoteus die mentor en sy geestelike seun
DEEL 3 Die kernbeginsels wat Paulus vir Timoteus geleer het
DEEL 4 Verdere verdieping van mentorskap deur Paulus se lering
DEEL 5 Paulus se mentorskap aan Titus en die agtergrond van die brief aan Titus
DEEL 6 Dieper Lering uit Titus vir Mentorskap
In hierdie deel kyk ons na die oorblywende kernwaarhede uit die brief aan Titus. Hierdie verskeidenheid beginsels wys hoe ’n mentor geestelike volwassenheid help vorm in homself en in ander.
- Mentorskap wat goeie werke beklemtoon
Titus 2:14 NLV
Hy het sy lewe vir ons gegee om ons van allerhande verkeerdhede te verlos, om ons vry te maak van ons sondes en om ons sy eie mense te maak, toegewy aan die doen van goeie dade.
Paulus herinner Titus dat Christus ons reinig met ’n doel om ywerig te wees in goeie werke. ’n Mentor moedig gelowiges aan om hulle geloof sigbaar te leef. - Wees nederig en sagmoedig teenoor alle mense
Titus 3:2 NLV
Hulle moet niemand kwaadpraat nie en nie stry soek nie. Hulle moet vriendelik wees en sagmoedigheid teenoor alle mense bewys.
Mentorskap vorm hoe ons mense hanteer. Ons moet nie stryery soek nie, nie negatief praat nie, en sagmoedig en vriendelik wees. Mentors bou brugte, nie mure nie. - God se genade het ons gered sonder ons eie werke
Titus 3:5 NLV
Hy het ons gered nie omdat ons die regte dinge gedoen het nie maar omdat Hy barmhartig is. Hy het ons gered deur die was van wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.
Mentorskap begin by nederigheid. Ons is gered deur genade en nie deur ons eie verdienste nie. Hierdie waarheid vorm hoe ons ander bedien. - Beklemtoon die dinge wat waar en seker is
Titus 3:8 NLV
Hierdie is ’n betroubare woord en ek wil hê jy moet sterk daarop aandring dat dié wat in God glo, hulle toewy aan die doen van goeie werke. Dit is goed en voordelig vir almal.
Paulus leer Titus om die gelowiges te herinner aan vaste en seker waarhede. Mentorskap bou op die fondasie van betroubare waarheid. - Vermy nuttelose argumente en twispunte
Titus 3:9 NLV
Maar vermy dwase argumente oor geslagsregisters en stryery oor die wet. Sulke dinge is nutteloos en sinloos.
Paulus leer Titus dat ’n mentor nie energie mors op nuttelose argumente nie. Fokus moet altyd wees op waarheid liefde goeie werke en geestelike groei. - Hantering van mense wat verdeeldheid saai
Titus 3:10 NLV
As iemand verdeeldheid veroorsaak waarsku hom een keer en waarsku hom dan ’n tweede keer. As hy steeds aanhou moet jy niks meer met hom te doen hê nie.
Mentorskap sluit ook grense in. Wanneer iemand volhard om verdeeldheid te saai moet leiers ferm wees ter wille van die vrede van die gemeente.
- Mentorskap wat goeie werke beklemtoon
Ter opsomming :
Die brief aan Titus wys vir ons hoe ryk en prakties Paulus se mentorskap was, van die vorming van leiers tot karakter tot die hantering van uitdagings en konflik. Hierdie beginsels help ons om vandag in ’n uitdagende wêreld mense te lei met wysheid liefde waarheid en volharding.
Ek vertrou dat jy geïnspireer is om by hernuwing die Bybel met ywer en oortuiging te bestudeer, nie net vir die kennis alleen nie maar vir die bedoeling daarvan, en dit toe te pas op jou eie lewe.
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels. Maar voor ek groet :
Luister jy nou al Radio Kaapse Kansel se app?
Indien nie kry dit gou in jou slimfoon se Playstore. Soek vir Cape Pulpit en laai af.
Ons is terug op AM: is jou radio ingestel? 729AM
Mag jou dag en week geseënd wees.
