DEEL 2 MET JOU HELE VERSTAND

DEEL 2

MET JOU HELE VERSTAND

Dankie dat jy inloer, ‘n voorreg om jou te kan bedien met hierdie gesprek : Ek is Amanda Pool, en vandag gesels ons oor DEEL 2 van ons  nuwe reeks.

Kom ons bid net eers saam:

Dankie, Heilige Gees, dat U ons ore, oë en harte oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer. Dankie vir U Woord. Amen.

Ek bevestig graag dat die inhoud van hierdie reeks baseer op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef – nie net om dit te lees nie. Dan sal ons ook met ander daaroor kan gesels.

Petrus sê ook in  1 Petrus 3:15

“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord – maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”

Hoe kan ek en jy ons meer gereed maak om aan ander te verduidelik?

In die volgende weke gaan ons besprekings hou oor aspekte wat daartoe kan.

Die fondasie en konteks:

Omdat die basis waarvandaan ons begin so belangrik is om die fondasie reg te skep, herhaal ek graag weer van verlede keer se inhoud.:

Ter inleiding ek gesels graag met julle oor die gesprek soos opgeteken in Matteus, toe die Sadduseërs Jesus probeer uitlok het met verskillende vrae.

due Sadduseërs  was :

· ‘n Priesterlike en aristokratiese groep

· Hulle het nie geglo in die opstanding, engele of die hiernamaals nie

· Hulle het dikwels probeer om Jesus intellektueel vas te trek.

In Matteus 22:29 lees  ons hieroor:

– nadat Jesus hulle op elke vraag kon antwoord en hulle verstom was daaroor – sê Hy vir hulle:

 “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.”

Na nog ’n paar vrae lees ons in Matteus 22:33 dat die skare verslae was oor Jesus se leer.

Toe die Fariseërs (hulle was weer die groep Joodse wetgeleerdes wat mense geleer het ) hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek.
“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
Jesus antwoord hom:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.”

Die fokus van ons gesprekke gaan juis oor hierdie woorde:
… met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand.

Ons hoor dikwels preke en boodskappe hieroor, en ons gesels gemaklik oor die hart en die siel, maar redelik minder oor wat dit regtig beteken om God lief te hê met ons denke, ons begrip, ons insig.

Om God lief te hê met jou hele verstand, kan ons ook só verwoord:
• Hy is die Here van hoe jy dink
• Hy is die bron van waarheid
• Sy Woord rig jou verstaan van die werklikheid

Paulus skryf ook hieroor in Romeine:

Romeine 12:2 (1983-vertaling)
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Hierdie vorm die agtergrond vir verdere gesprekke oor hoe ek my verstand, my denke, my insig gebruik om God lief te hê en om deur die lens van Christenskap te leef.

Johannes 7:17 (1983-vertaling) sê:
“As iemand bereid is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God kom, en of Ek uit Myself praat.”

Jesus nooi mense om te ondersoek, te evalueer en tot insig te kom. Geloof is nie blind nie – dit is oortuigende gehoorsaamheid.

Openbaring 22:17 (1983-vertaling) sê:
“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

“Wat wil” impliseer bewussyn, begeerte en besluit. Niemand word gesleep nie.

Matteus 23:37 (1983-vertaling) sê:
“Jerusalem, Jerusalem… hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie.”

Jesus erken die mens se “nee”. Ware liefde en ware geloof kan nie geforseer word nie.

DAAROM

Om Jesus te volg is ’n ingeligte, oortuigende en vrywillige keuse.
Nie tradisie nie. Nie kultuur nie.
Nie dwang nie. Maar ’n bewuste besluit van die hart én die denke.

… met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand…

Die Bybel leer ons dus dat geloof ’n besluit is, ’n keuse wat gemaak word met ’n verstand wat onderskei, ’n hart wat oortuig raak, en ’n wil wat reageer.

Die vraag wat ek myself moes afvra, was:

– Wanneer het ek daardie besluit geneem om Jesus onvoorwaardelik te volg?
– Wanneer is ek wedergebore –
nie net emosie nie, nie net uit gewoonte nie,maar met my hele wese –hart, siel én insig?

Van toe af was my wêreldbeskouing deur die lens van my Christenskap ( onder leiding van Heilige Gees groei ek steeds daarin.)

Jy kan dit self ondersoek : In jou stiltetyd vra Heilige Gees om jou te lei, veral as jy nie dadelik kan onthou of weet nie.

Die feit dat baie van ons – en ek sluit myself in – vroeër sou antwoord sonder om regtig te weet, het dikwels só geklink:

    • Ek is ‘n Christen gebore …My familie is almal Christene
    • Ek lees die Bybel en gaan meeste Sondae kerk toe
    • Ek is betrokke by my kerk se aktiwiteite

Dit is dus moontlik om binne ’n Christelike kultuur groot te word, sonder om ooit ’n doelbewuste oorgawe aan Jesus Christus te maak.
 Dat ek nooit geleer/geweet het dat ek ‘n keuse het om hierdie oorgawe  doelbewus te maak nie.

God is natuurlik altyd in beheer om ons met ‘n Damaskus ondervinding en met Goddelike ingryping tot oorgawe te bring. 

Hy wag vir jou om  ’n doelbewuste besluit te maak, om met oortuiging Jesus Christus as jou Verlosser te aanvaar – dis jou keuse. 

Ek sluit hiermee af tot ’n volgende keer.

Maak tyd om hieroor te reflekteer, te bid, vra Heilige Gees om jou te help.

_______________________________________________________________________________________________________________

Ek vertrou dat jy geïnspireer is om by hernuwing die Bybel met ywer en oortuiging te bestudeer nie en dit toe te pas op jou eie lewe._

Hoe meer ons die Bybel lees (intesioneel) hoe meer openbarings wag op ons – Heilige Gees openbaar so dikwels aspekte wat ons lewe so kan verryk met meer wysheid en insig, en dit weer met ander kan deel.

Ek gesels elke Woensdag op Radio Kaapse Kansel vanaf 13:30. APP of RADIO AM 729

Stuur gerus jou kommentaar direk aan my – jy kan dit via my webblad doen of jou kommentaar per WhatsApp na 0829265062, stuur.

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Mag jou dag en week geseend wees,

Ek is Amanda Pool. Shalom.

Shopping Cart
Scroll to Top