DEEL 1
MET JOU HELE VERSTAND
Kom ons bid net eers saam:
Dankie, Heilige Gees, dat U ons ore, oë en harte oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer. Dankie vir U Woord. Amen.
Die Grondslag van Hierdie Reeks
Voor ek begin gesels oor ons nuwe reeks gesprekke, wil ek net weer bevestig: die inhoud van hierdie reeks is gebaseer op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef – nie net om dit te lees nie. Dan sal ons ook met ander daaroor kan gesels.
Petrus sê ook:
“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord – maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”
— 1 Petrus 3:15
In die volgende weke gaan ons besprekings hou oor aspekte wat daartoe kan bydra dat ons die verduideliking beter en beter kan doen.
’n Gesprek in Matteus 22
Ter inleiding gesels ek graag met julle oor die gesprek soos opgeteken in Matteus, toe die Sadduseërs Jesus probeer uitlok het met verskillende vrae.
In Matteus 22:29 – nadat Jesus hulle op elke vraag kon antwoord en hulle verstom was daaroor – sê Hy vir hulle:
“Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.”
Na nog ’n paar vrae lees ons in Matteus 22:33 dat die skare verslae was oor Sy leer.
Matteus 22:34–37 sê:
Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek.
“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
Jesus antwoord hom:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.”
Die Fokus van Ons Gesprekke
Die fokus van ons gesprekke gaan juis oor hierdie woorde:
met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand.
Ons hoor dikwels preke en boodskappe hieroor, en ons gesels gemaklik oor die hart en die siel, maar redelik minder oor wat dit regtig beteken om God lief te hê met ons denke, ons begrip, ons insig.
Om God lief te hê met jou hele verstand, kan ons ook só verwoord:
• Hy is die Here van hoe jy dink
• Hy is die bron van waarheid
• Sy Woord rig jou verstaan van die werklikheid
Die Vernuwing van Ons Denke
Paulus skryf ook hieroor in Romeine:
Romeine 12:2 (1983-vertaling)
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Hierdie vorm die agtergrond vir verdere gesprekke oor hoe ek my verstand, my denke, my insig gebruik om God lief te hê en om deur die lens van Christenskap te leef.
’n Persoonlike Vraag
Die eerste vraag wat ek myself vra, is:
Hoe gebruik ek my denke om te verstaan hoekom ek ’n Christen is?
Ek moes dit mos besluit het, want die Woord sê ek het die keuse om te besluit.
Ek is nie ’n Christen onder dwang nie.
Ek het die wil om te kies.
Ek het met my begrip en oortuiging tot daardie punt gekom.
Reg?
Keuse, Wil en Oortuiging
Johannes 7:17 (1983-vertaling) sê:
“As iemand bereid is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God kom, en of Ek uit Myself praat.”
Jesus nooi mense om te ondersoek, te evalueer en tot insig te kom.
Geloof is nie blind nie – dit is oortuigende gehoorsaamheid.
Openbaring 22:17 (1983-vertaling) sê:
“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
“Wat wil” impliseer bewussyn, begeerte en besluit.
Niemand word gesleep nie.
Matteus 23:37 (1983-vertaling) sê:
“Jerusalem, Jerusalem… hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie.”
Jesus erken die mens se “nee”.
Ware liefde en ware geloof kan nie geforseer word nie.
’n Bewuste Keuse
DAAROM
Om Jesus te volg is ’n ingeligte, oortuigende en vrywillige keuse.
Nie tradisie nie.
Nie kultuur nie.
Nie dwang nie.
Maar ’n bewuste besluit van die hart én die denke.
Die Bybel leer ons dus dat geloof ’n besluit is –
’n keuse wat gemaak word met ’n verstand wat onderskei,
’n hart wat oortuig raak,
en ’n wil wat reageer.
’n Oomblik van Selfondersoek
Die vraag wat ek myself moes vra, was:
• Wanneer het ek daardie besluit geneem om Jesus onvoorwaardelik te volg?
• Wanneer is ek wedergebore –
nie net emosioneel nie,
nie net uit gewoonte nie,
maar met my hele wese –
hart, siel én insig?
Ek het besef dat ek daardie werklike oorgawe in 2017 gemaak het.
Van toe af is my wêreldbeskouing net deur die lens van my Christenskap.
’n Uitnodiging tot Persoonlike Ondersoek
Jy kan dit self ondersoek.
In jou stiltetyd vra Heilige Gees om jou te lei, veral as jy nie dadelik kan onthou of weet nie.
Die feit dat baie van ons – en ek sluit myself in – vroeër sou antwoord sonder om regtig te weet, het dikwels só geklink:
• My familie is almal Christene
• Ek lees die Bybel en gaan meeste Sondae kerk toe
• Ek is betrokke by my kerk se aktiwiteite
“Dis moontlik om binne ’n Christelike kultuur groot te word, sonder om ooit ’n doelbewuste oorgawe aan Jesus Christus te maak – bloot uit gewoonte, omdat almal rondom my dit doen.”
Drie Belangrike Vrae
Het ek al ’n doelbewuste besluit met oortuiging gemaak om Jesus Christus as my Verlosser te aanvaar?
Het my wêreldbeskouing verander?
Kyk ek nou regtig 100% deur die lens van Christenskap?
Ek sien nou duidelik dat daar soveel ander wêreldbeskouings is – die manier waarop ’n mens na die lewe, waarheid en reg en verkeerd kyk.
Slotboodskap
Ek sluit hiermee af tot ’n volgende keer, met hierdie boodskap:
Wanneer Jesus ons roep om God lief te hê met ons hele verstand,
roep Hy ons tot ’n geloof wat:
• gewortel is in waarheid
• gevorm word deur Sy Woord
• en elke area van ons denke raak
En dis waar ons volgende keer gaan begin.
’n Persoonlike Aanmoediging
Ek vertrou dat jy geïnspireer is om by hernuwing die Bybel met ywer en oortuiging te bestudeer – nie net vir die kennis alleen nie, maar vir die bedoeling daarvan, en om dit toe te pas op jou eie lewe.
Hoe meer ons die Bybel lees (intensioneel), hoe meer openbarings wag op ons. Heilige Gees openbaar so dikwels aspekte wat ons lewe kan verryk met meer wysheid en insig, en wat ons met ander kan deel.
Kontak en Volgende Gesprek
Ek gesels elke Woensdag op Radio Kaapse Kansel vanaf 13:30. Luister gerus op die APP of RADIO AM 729
Stuur gerus jou kommentaar direk aan my – jy kan dit via my webblad doen of jou kommentaar per WhatsApp persoonlik na 082 926 5062.
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.
Mag jou dag en week geseënd wees.
Ek is Amanda Pool.
Shalom.
