DEEL 1
DIE MENS IN GENESIS… EN DAARNA
Welkom by hierdie eerste deel van ons reeks oor DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA
Kom ons begin hierdie reis saam … maar nie sommer enige reis nie. ’n Reis na die begin van alles, selfs voor en ook in en na Genesis. Nie net Genesis as ’n boek nie, maar na die begin van alles. Vandag begin ons egter nie by die skeppingsverhaal, of selfs by Adam en Eva nie…
Ons begin met ’n vraag: Is Genesis werklik waar? Alles daarin, net soos dit werklik soveel jare gelede gebeur het?
Voor ons verder gaan bid ons eers saam:
Dankie, Vader, dat ons die Bybel in Afrikaans en in ander tale beskikbaar het. Ons is so dankbaar dat ons U Woord in ons moedertaal kan lees en bestudeer om meer van U te weet.
Dankie dat ons die vryheid in ons land het om dit te kan en te mag doen.
AMEN
Om die vraag te beantwoord wat ek voor ons gebed gevra het:
Is die boek Genesis ʼn geestelike boek, of histories en is dit betroubaar, is alles waar?
Want as Genesis nie waar is nie, dan raak dit nie net hierdie een boek nie, dit raak die hele basis van die Bybel.
Gaan lees gerus weer in my vorige reeks: MET JOU HELE VERSTAND, en spesifiek deel 4, vir die bespreking(s) oor die historiese bewyse dat die HELE Bybel akkuraat en waar is.
Die antwoord is dan onomwonde – ja!
Genesis en die HELE Bybel kan aanvaar word as die betroubare en ware Woord van God.
Daarom kan ons begin lees in Genesis, sonder enige argumente of onsekerhede, en ons begin… by Jesus, want as daar Een is wat die begin ken, is dit Hy.
In Hebreërs lees ons :
In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.Hebreërs 1: 1-2
Johannes skryf:
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God… Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Johannes 1:1,3 (1983)
Met ander woorde… Jesus se “bestaan” begin nie in Bethlehem nie. Hy is nie later bygevoeg in die storie nie. Hy was daar… van die begin af.
En wanneer jy dan weer Genesis begin lees… lees jy anders, met meer aandag as voorheen, want jy soek om dieper te verstaan wat jy dalk al jare lank gemis, of nooit besef het nie, of nie alles gekliek het nie, en moontlik dieper bedoeling misgelees het.
Dis ‘n goeie tyd om weer Genesis te lees vanuit bogenoemde perspektief :
1. Genesis 1:2
“En die Gees van God het gesweef op die waters.”: wat beteken Gees in hierdie sin? Beteken dit dat God se Gees ALTYD daar was, net soos Jesus waaroor ons nou gelees het en ook hierna weer gaan lees?
2. Genesis 1:26: “Laat Ons mense maak na Ons beeld…” en jy kan wonder, hoekom sê God ONS? In hierdie gedeelte, is daar geen verdere verduideliking nie. ( verder aan in die skrif bly dit “ons”).
God praat nie in enkelvoud nie; dan moet daar mos ander ook teenwoordig wees: dan kan dit net God self, Sy Seun en Heilige Gees wees. Dit is absoluut my oortuiging.
En eers eeue later begin ons verstaan: Dit was nie ’n geheim wat bygevoeg is nie: dit was altyd so.
En Jesus bevestig dit:
“Verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”
Johannes 17:5 (1983)
Jesus sê nie: “gee My iets nuuts nie.” Maar “die heerlikheid wat Ek gehad het……” Hy was daar… van die begin af.
3. Genesis 2:23
“Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” En direk daarna lees ons die volgende:
4. Genesis 2:24
“Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.”
Maar wag ’n bietjie…
Hierdie is mos daardie vers wat meestal by huweliks bevestigings gelees word…
Ons kan nou onseker wees oor wie praat in vers 24?
.. Wat het Moses (die skrywer) gehoor ? Die Een wat daar was, gee die antwoord: wat sê Jesus eeue later hieroor?
“Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?”
Matteus 19:4 (1983)
Vir Hom is dit nie ’n onseker teks nie. Daarom is dit duidelik dat dit God is wat in vers 24 praat.
___________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________
Vir ons volgende gesprekke:
“Soos dit was in die dae van Noag, so sal dit ook wees…”
Matteus 24:37 (1983)
“…Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom…” Romeine 5:14
Afsluiting
Hiermee sluit ons dan eers af – volgende keer gesels ons in DEEL 2.
Ek herinner net dat ek elke Woensdag skuins na 13h30, op Radio Kaapse Kansel gesels en daardie gesprek/lering word dan die volgende BLOG. (daar is ook heruitsending op ander dae)
Skakel gerus via die “PLAYSORYE APP” van Cape Pulpit op jou selfoon, of op jou gewone radio op AM 729.
Enige kommentaar is welkom – stuur asb direk aan my. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik via WhatsApp aan my stuur: 082 926 5062.
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.
Mag jou dag en week geseënd wees.
