DEEL 3 BYBELSE MENTORSKAP

BYBELSE MENTORSKAP
DEEL 3

WELKOM,

en baie dankie dat jy hierdie BLOG lees. Ek vertrou dit gaan jou inspireer.

 

GEBED

Dankie, Heilige Gees, dat ons vandag weer dieper begrippe uit die Woord kan leer, dat U ons ore, oë en harte oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer.

Dankie, Jesus, dat U mens geword het en tussen ons kom woon het.

Dankie vir U Woord.

Amen.

 

 

INLEIDING

Ek bevestig weer dat die inhoud van hierdie reeks gebaseer is op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie.

God praat op verskeie plekke in die Skrif met ons en herinner ons om die Woord te leer en te oordink, soos in Spreuke.

Spreuke 4:20 tot 22

“20 My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê.

Bly daarop ingestel om na my woorde te luister.

21 Laat dit nie uit jou sig verdwyn nie. Bewaar dit diep in jou hart. 22 Want dit gee lewe vir die een wat dit vind en bring genesing vir sy hele liggaam”.

HOEKOM BESTUDEER ONS DIE BYBEL

Wanneer ons die Woord intens bestudeer, ontvang ons openbaringskennis en kan werklik leef soos wat die Woord bepaal.

Boonop leef ons in ’n wêreld waar baie mense skepties is oor die Bybel. Hoe meer ons dus die Woord bestudeer, hoe meer openbaringskennis ontvang ons en hoe beter kan ons ons geloof verduidelik, soos Petrus skryf:

1 Petrus 3:15

“Wees altyd bereid om elkeen te antwoord wat van julle ’n verduideliking vra oor die hoop wat in julle leef. Doen dit met sagsinnigheid en met respek.”

En altyd onder die leiding van die Heilige Gees.

TERUGBLIK OP DIE REEKS

• DEEL 1: Jesus Christus, die Volmaakte Mentor.

• DEEL 2: Paulus en Timoteus, die verhouding met Timoteus.

____________________________________________________________________________________________________________________________

DEEL 3

Paulus was ’n ware mentor en het baie tyd spandeer om vir Timoteus te leer, sodat hy hierdie kennis weer kon oordra aan ander. Uit 1 Timoteus en 2 Timoteus sien ons kerngedagtes oor Bybelse mentorskap.

2 Timoteus 2:2

“En wat jy van my gehoor het terwyl daar baie getuies was, moet jy toevertrou aan gelowige mense wat ook bekwaam sal wees om dit aan ander te leer.”

Paulus leer hier vir Timoteus:

• Moenie die waarheid vir jouself hou nie.

• Vertrou dit toe aan betroubare mense.

• Hulle moet weer ander kan leer.

2 Timoteus 3:16 tot 17

“16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, vir weerlegging, vir regwysing en vir onderrig in die regte lewenswyse.

17 Dit maak die mens van God volkome voorbereid en volledig toegerus vir elke goeie werk.”

Paulus herinner Timoteus hier dat die hele Skrif:

• deur God gegee is

• nuttig is om te leer

• ons toerus vir elke goeie werk

1 Timoteus 4:12

“Moenie dat iemand op jou neerkyk omdat jy jonk is nie. Maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in wat jy sê, in jou gedrag, in liefde, in geloof en in reinheid.”

Paulus sê nie vir Timoteus om ouer te lyk nie. Hy sê hy moet ’n voorbeeld wees:

• in sy woorde

• in sy gedrag

• in sy liefde

• in sy geloof

• in sy reinheid

Paulus gee dus aandag aan karaktervorming en om te streef om gelyk aan Christus te wees.

2 Timoteus 1:6 tot 7

“6 Daarom herinner ek jou om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is. 7 God het ons nie ’n gees van vrees gegee nie maar een van krag en liefde en selfbeheersing.”

As ’n mentor help Paulus nie net vir Timoteus nie, maar ook vir ons elkeen om te verstaan hoe om die gawes wat God in ons geplaas het, raak te sien.

Hulle herinner ons om nie uit vrees te leef nie, maar uit krag, liefde en selfbeheersing.

Baie gelowiges het gawes wat half aan die slaap geraak het. God roep ons om dit weer aan te wakker.

2 Timoteus 2:15

“Doen jou uiterste bes om jouself aan God as ’n beproefde werker te bewys, iemand wat nie hoef skaam te staan nie en wat die woord van die waarheid reg hanteer.”

Hierin hoor ons drie belangrike elemente:

• Beproef voor God: leef en werk so dat God self jou kan toets en goedkeur.

• ’n Werker wat hom nie hoef te skaam nie: integriteit, getrouheid, eerlikheid.

• Die woord van die waarheid reg verdeel: om die Woord reg te verklaar, reg toe te pas, en nie mense te mislei of te manipuleer met Skrif nie.

Ons moet die Skrif met eerbied en akkuraatheid gebruik, nooit om mense te verwar of selfs te manipuleer nie.

_____________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________

Ek vertrou dat hierdie deel jou inspireer om die Woord met oortuiging te bestudeer, nie net vir kennis nie maar vir die bedoeling daarvan, sodat dit jou lewe verander.

Volgende keer gesels ons dan verder oor Paulus en hoe hy ander geleer en gementor het.

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels. Maar voor ek totsiens sê:

As jy dit nog nie gedoen het nie: gaan vinnig na jou slimfoon se Playstore, soek vir CAPEPULPIT en laai dit af.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.

Shalom.

NASKRIF : Jy is welkom om kommentaar te lewer : stuur gerus  ‘n WhatsApp na +27 0829265062

Shopping Cart
Scroll to Top