DEEL 2 BYBELSE MENTORSKAP

BYBELSE MENTORSKAP
DEEL 2  

WELKOM,

en baie dankie dat jy hierdie BLOG lees, ek vertrou dit gaan jou inspireer.

(LUISTER GERUS : elke Woensdag op  Radio Kaapse Kansel,  net ná 13:30.)

GEBED

Dankie, Heilige Gees, dat ons vandag weer dieper begrippe uit die Woord kan leer, dat U ons ore, oë en harte oopmaak, ook vir dit wat ons vandag gaan leer.
Dankie, Jesus, dat U mens geword het en tussen ons kom woon het.
Dankie vir U Woord.
Amen.

Inleiding

Ek bevestig weer: die inhoud van hierdie reeks is gebaseer op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie.
God praat op verskeie plekke in Sy Woord met ons, dat ons dit moet leer en oordink, soos in Spreuke.

Hoekom moet ons dieper gaan

Ons leef in ’n wêreld waar baie mense skepties is oor die Bybel. Hoe dieper ons die Woord bestudeer, hoe beter kan ons ons geloof verduidelik, soos Petrus sê:

“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord, maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”
1 Petrus 3:15

En altyd onder leiding van die Heilige Gees.

Spreuke 4:20–22 (NLV)

20 My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê. Laat my woorde nooit uit jou gedagtes verdwyn nie.
21 Bêre dit diep in jou hart.
22 Want hulle bring lewe vir dié wat dit vind, en is gesondheid vir hulle hele liggaam.

Ons gesels verder oor mentorskap en mentors in die Bybel

DEEL 1

In Deel 1 het ons gesels oor Jesus Christus, Die Volmaakte Mentor. Gaan lees dit gerus weer.

DEEL 2

Vandag is ons by die tweede mentor uit die Bybel, Paulus.

In die eerste brief wat Paulus aan sy leerling Timoteus skryf, begin hy ons ook leer. Ons is dus ook leerlinge, net soos Timoteus was.
Hierdie reeks help ons om nie net meer te weet oor Bybelse mentors en mentorskap nie, maar ook oor die mentees, die leerlinge self.

Vroeg in die brief aan Timoteus skryf Paulus:

1 Timoteus 1:19
“Hou vas aan die geloof en aan ’n goeie gewete. Party het dit verwerp en daarom in hulle geloof skipbreuk gely.”

En daar haak ek vas, en ek wonder: Wat is die “gewete” dan eintlik?

Agtergrond oor Paulus en Timoteus

Voor ek verder deel oor die begrip en betekenis van gewete, gee ek eers agtergrond oor Paulus en Timoteus se verhouding.

Die band tussen Paulus en Timoteus is een van die duidelikste Bybelse voorbeelde van ’n mentor en mentee.
Paulus noem hom sy “ware kind in die geloof.”

Hy maak seker dat Timoteus drie dinge verstaan:

    1. Geloof
    2. ’n Suiwer gewete
    3. Volharding in waarheid

Wat is die gewete

Die gewete is nie net ’n morele aspek nie, dit is ’n geestelike merkteken.
Die Griekse woord syneidēsis beteken “saam-wete”, jou innerlike bewussyn van reg en verkeerd.

God het dit in elke mens geplaas. Die Heilige Gees gebruik dit om ons te lei, te waarsku en te herinner.

Hoe werk die gewete

    1. Dit is in elke mens ingebou, Romeine 2:14–15
    2. Die Heilige Gees gebruik dit om te waarsku of te lei
    3. ’n Suiwer gewete bring vrede
    4. ’n Skuldige gewete bring onrus
    5. ’n Gewete kan afgestomp raak as dit herhaaldelik geïgnoreer word
    6. Christus reinig die gewete, Hebreërs 9:14

Die waarskuwing van Paulus

Paulus waarsku Timoteus dat sommige hul gewete verwerp het, en dat hulle geloof skipbreuk gely het.
Dit is ’n dramatiese beeld, ’n skip wat teen rotse vergaan. Só lyk ’n lewe wat aanhoudend ongehoorsaam is en selfregverdiging kies.

Teologiese perspektiewe op die gewete

• Thomas van Aquino het geskryf dat die gewete morele beginsels op dade toepas.
• John Wesley skryf dat die gewete die stem van God binne die menslike siel is.
• John MacArthur sê ’n suiwer gewete is jou geestelike rigtingwyser.
• CS Lewis skryf dat die bestaan van ’n gewete die bestaan van ’n morele Wetgewer bevestig, God.

Samevatting

Wat is die gewete? Jou innerlike geestelike bewussyn van reg en verkeerd.
Wie vorm dit? God skep dit, en die Woord en die Gees vorm dit verder.
Hoe werk dit? Dit waarsku, oortuig, lei, en bring vrede of onrus.
Wat gebeur as dit verwerp word? Dit word afgestomp, en die geloof ly skade.
Wat herstel dit? Bekering, belydenis en die bloed van Christus.

Dit bring ons aan die einde van die insig oor die een woordjie gewete. Daar is so baie openbaring wat vir elkeen van ons lê en wag. God wil graag Sy Woord aan ons openbaar.

Hoe meer tyd ons in Sy Woord spandeer, hoe meer openbarings sal ons ontvang.

Volgende week gesels ons verder oor Paulus en sy mentees, en later oor ander Bybelse mentors.

Radio Kaapse Kansel Toep

Luister jy al na Radio Kaapse Kansel se toep, app?
Gaan na jou PlayStore, soek CapePulpit, en laai dit af.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.
Shalom.

Shopping Cart
Scroll to Top