DEEL 4
MET JOU HELE VERSTAND
Dankie dat jy inloer – dis ‘n voorreg om jou te kan bedien met hierdie gesprek.
Kom ons bid net eers saam:
Dankie, Heilige Gees, dat U ons ore, oë en harte en ook ons verstand oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer. Dankie vir U Woord. Amen.
Ek bevestig graag:
Die inhoud van hierdie reeks is gebaseer op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer, en daarvolgens te leef – nie net om dit te lees nie. Dan sal ons ook met ander daaroor kan gesels.
Petrus sê ook in 1 Petrus 3:15
“Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord – maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”
Hoe kan ek en jy ons meer gereed maak om aan ander te verduidelik?
In die vorige drie dele het ons begin kyk na wat dit beteken om God lief te hê met ons verstand.
In Deel 3 het ons afgesluit met ’n belangrike beginsel van geestelike dissipline:
Om elke gedagte gevange te neem om aan Christus gehoorsaam te wees.
Dit beteken dat ons aktief valshede, wêreldse prioriteite en negatiwiteit verwerp – en kies vir wat waar, suiwer en lofwaardig is (Filippense 4:8).
Die groot vraag is nog steeds HOE verduidelik ons die HOOP wat in ons leef?
Sonder om die Bybel aan te haal? is dit moontlik? Natuurlik kan ons ons persoonlike getuienis gee en die waarhede vanuit die Bybel kwoteer, maar wat as die ander persoon of persone Jesus glad nie ken nie, nog nooit van Hom gehoor het nie OF hulle weet van Hom, maar hulle het ander geloofsoortuigings?
In DEEL 3 het ek dit beskryf, gaan lees gerus weer.
ONS TEMA VIR VANDAG IS:
Hoe weet ek dat die Bybel die waarheid is, en dat dit korrek en betroubaar oorgeskryf is oor die eeue heen. Wat is die historiese bewyse dat dit korrek is, soos dit eeue gelede werklik plaasgevind het;
Ons voorbereiding het begin om uiteindelik die volgende vrae almal met insig en wysheid (steeds en altyd onder die leiding Heilige Gees) te kan antwoord :
· Is die Bybel akkuraat en waar? JA!
· Is die opstanding ’n historiese feit? JA!
· Was Jesus God in die vlees? JA!
BETROUBAARHEID
Wanneer ons oor betroubaarheid praat, is Lukas ’n uitstekende beginpunt.
Hy was ’n geleerde man. Hy word dikwels geïdentifiseer as die mediese dokter wat saam met Paulus gereis het. Hy was ’n Christen uit die heidendom.
Sy Evangelie en die boek Handelinge vorm saam ‘n eenheid, en ook ‘n historiese eenheid.
In Lukas 1:1–3 sien ons iets baie belangrik:
Die Christelike geloof is van die begin af volgens die Ou en nuwe Testamente, ‘n geloofsboek, maar ook getrou aan historiese werklikheid wat ondersoek kan word.
Lukas skryf aan Teofilus.
Hy het twee groepe in gedagte:
· Gelowiges wat sekerheid soek
· Nie-gelowiges : Kritiese of selfs vyandige buitestanders wat vrae vra
Hy anker sy boodskap in:
· Ooggetuienis
· Noukeurige ondersoek
Christelike geloof is nie blind of irrasioneel nie. Ons is nie bang vir vrae nie: Dit is verantwoordbaar en deurdag.
Lukas skep hier ‘n baie goeie voorbeeld van die geskrifte wat uiteindelik gelei het tot die samestelling van die Bybel.
Nou kan ons verder gaan met die inleiding om meer te leer oor hierdie geskrifte (beter bekend as manuskripte) :
Wat is ‘n manuskrip?
’n Manuskrip is ’n dokument wat met die hand geskryf of oorgeskryf is, lank voordat daar drukkers en moderne boeke was.
Die woord kom van twee Latynse woorde:
manus (hand) en scriptum (geskryf).
Dit beteken letterlik:
“met die hand geskryf.”
Hoe het dit gewerk?
In antieke tye was daar:
· Geen drukpers
· Geen fotostaatmasjiene
· Geen internet
· Geen PDF’s
As ’n boek of brief belangrik was, moes dit met die hand oorgeskryf word: woord vir woord.
Skribas of geleerdes het dit gedoen.
Dit was:
· Stadig
· Arbeidsintensief
· En baie duur
Maar dit was die enigste manier om kennis te bewaar en te versprei.
Belangrike manuskripte is weer en weer gekopieer. (daar is ‘n hele wetenskap agter hierdie proses).
Dit was nie uniek aan die Bybel nie: Alle antieke geskrifte: wette, geskiedenis, filosofie, godsdiens, het dieselfde pad gevolg.
Hoe bepaal kenners betroubaarheid?
Kenners vra nie: “Glo jy dit?” nie, hulle vra drie eenvoudige vrae:
1. Hoe vroeg is die oudste kopie?
2. Hoeveel kopieë bestaan daar?
3. Is die inligting deur ooggetuies bevestig?
VRAAG 1:
Hoe vroeg is die oudste kopie?
By die Nuwe Testament is die tydsgaping ongewoon kort: Ongeveer 80 jaar.
Dit beteken: Die verhale is neergeskryf terwyl herinneringe nog vars was.
Vergelyk dit met ander antieke werke:
· Plinius die Jongere: 750 jaar
· Caesar, Galliese Oorloë: 1 000 jaar
· Plato: 1 200 jaar
· Aristoteles, Poëtika: 1 400 jaar
· Sophokles: 1 400 jaar
· Euripides: 1 500 jaar
· Thukydides: 1 500 jaar
**************************Die Nuwe Testament staan loshande uit!
VRAAG 2:
Hoeveel kopieë bestaan daar?
As daar net ’n paar kopieë is, kan foute maklik wegkruip.
As daar baie kopieë is, kan hulle met mekaar vergelyk word en foute word uitgewys.
Hoe nader ’n kopie aan die oorspronklike dokument is hoe minder kans is daar vir verdraaiing of foute.
***********************Die Nuwe Testament het meer manuskripte as enige ander antieke teks.
Net ter illustrasie:
· Nuwe Testament: 24 633 manuskripte
· Die Ilias: 643 manuskripte
· Aristoteles: 49 manuskripte
En die belangrike vraag:
Stem hierdie 24 633 grootliks ooreen?
Ja! – daar is wel verskille grotendeels omdat daar 8 verskillende skrywers was wat die hele Nuwe Testament geskryf het:
1. Matteus
2. Markus
3. Lukas
4. Johannes
5. Paulus
6. Jakobus
7. Petrus
8. Judas
Hierdie boeke is oor ongeveer 40–50 jaar geskryf, deur hierdie 8 mense wat verskillende beroepe gehad het:
· Vissermanne
· ’n Belastinggaarder
· ’n Dokter
· ’n Fariseër wat ’n Christen geword het
· Familie van Jesus
En tog vorm dit een samehangende boodskap.
Die verskille verander egter nie betekenis nie
· Dit raak nie kerninhoud nie
· Dit raak nie die sentrale boodskap nie
Dit raak nou heeltemal duidelik dat geen kernwaarheid van die Christelike geloof afhang van ’n onseker teks nie.
Sjoe, indien hierdie inligting NIE aan jou bekend was nie, is ek dankbaar vir die leiding van Heilige Gees om hierdie te kon neerskryf.
Indien hierdie inligting wel aan jou bekend is, is ek bly dat jy dit weer by hernuwing kan lees.
Ons eindig eers hier vir vandag:
Ek voel sommer opgewonde saam met jou dat ons oppad is om meer te hoor en te leer sodat ons kan uitroep :
· Die Bybel is akkuraat en waar!
· Die opstanding was ’n historiese feit!
· Jesus was God in die vlees!
Volgende keer:
Deel 5 :
Wanneer is hierdie dinge neergeskryf?
En was daar werklik ooggetuies…
Die daaropvolgende temas :
Deel 6 :
Is die opstanding van Jesus Christus ’n historiese feit,
en daarna volg ander wêreldbeskouings as ons Christen wêreldbeskouing.
____________________________________________________________________________
Hoe meer ons die Bybel intensioneel bestudeer, en ook ander boeke en geskrifte, hoe meer openbarings wag op ons – Heilige Gees openbaar so dikwels aspekte wat ons lewe so kan verryk met meer wysheid en insig, om dit dan weer met ander te deel.
EK HERINNER AAN ELKE WOENSDAG :
Ek gesels elke Woensdag op Radio Kaapse Kansel vanaf 13:30.
Skakel gerus in met die APP op jou selfoon, of op jou gewone radio op RADIO AM 729.
Stuur gerus jou kommentaar direk aan my – jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar per WhatsApp na my persoonlik stuur: 0829265062
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.
Mag jou dag en week geseënd wees,
Ek is Amanda Pool.
Shalom.
