DEEL 5 MET JOU HELE VERSTAND

DEEL 5

MET JOU HELE VERSTAND

Dankie dat jy inloer. Dit is ’n voorreg om jou te kan bedien met hierdie gesprek.

Kom ons bid net eers saam:

Dankie, Heilige Gees, dat U ons ore, oë, harte en ook ons verstand oopmaak vir dit wat ons vandag gaan leer. Dankie vir U Woord. Amen.

Ek bevestig graag:

Die inhoud van hierdie reeks is gebaseer op God se Woord en op Sy opdrag om dit te bestudeer en daarvolgens te leef, nie net om dit te lees nie. Dan sal ons ook met ander daaroor kan gesels.

Petrus sê ook in 1 Petrus 3:15: “Wees altyd gereed om elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle leef, te antwoord, maar doen dit met sagmoedigheid en respek.”

Hoe kan ek en jy ons meer gereed maak om aan ander te verduidelik?

In die vorige 3 dele het ons begin kyk na wat dit beteken om God lief te hê met ons verstand. 

In  Deel 4 en ook vandag in Deel 5 is die belangrike vraag:

As ons dan sekerheid het dat ons God liefhet met ons hele hart, ons hele siel en ONS HELE VERSTAND, hoe verduidelik ons met ons eie sekderheid aan ander wat dit nie het nie, en nie die Bybel en ook nie vir Jesus ken nie? 

Ons het gesels oor wat bepaal dan anders as die Bybel self, dat die Bybel waar is? Hoe bepaal kenners betroubaarheid van die Bybel saam met ander algemene historiese literatuur ? 

Kenners vra nie: “Glo jy dit?” nie. Hulle vra drie eenvoudige vrae:

  1. Hoe vroeg is die oudste kopie?
  2. Hoeveel kopieë bestaan daar?
  3. Waar en hoe is die inligting bekom, en is dit deur ooggetuies bevestig?

Die eerste twee vrae het ons in die vorige blogs bespreek. Gaan lees dit asseblief weer :

Vandag kyk ons na vraag 3.

Algemene Historiese Literatuur Perspektief

Ons gesels eers oor die antwoorde op hierdie vrae vanuit ’n algemene historiese literatuuroogpunt.

As ons kyk na geskrifte buite die Nuwe Testament wat ook aanspraak maak op waarheid, sien ons meestal hierdie patroon:

Die aanspraak op waarheid rus gewoonlik op:
• Openbarings wat aan een persoon alleen gegee is, of
• Verhale wat eers lank daarna mondelings oorgedra en later neergeskryf is, of
• Stories wat deel is van mitologiese of simboliese vertellings.

Dit beteken nie hierdie ander tekste is waardeloos nie.
Maar hulle voldoen nie aan dieselfde historiese ooggetuie-kriteria wat moderne geskiedkundiges vereis vir verifieerbare gebeure nie.

As voorbeeld gebruik ek, om te vergelyk met die Nuwe Testament, ander geloofsmanuskripte of geskrifte.

Die Koran is een van die meer bekendes, aangesien dit geskryf is vir die Moslem-geloof.

A. Die Beweerde Openbarings Self

Volgens Islam het die Koran ontstaan uit openbarings wat:

• Aan Muhammad gegee is
• Oor ’n tydperk van ongeveer 610 tot 632 n.C.
• Deur die engel Jibril (Gabriël)
• Meestal mondelings voorgedra, nie self geskryf nie

Hierdie openbarings was dus:

  1. Die privaat ervarings van een persoon
  2. Daar was geen ooggetuies van die openbaring self nie. Slegs mense wat Mohammed later hoor praat het

B. Mondelinge Oorlewering Tydens Mohammed se Leeftyd

• Volgelinge (ḥuffāẓ) het dele uit die kop geleer
• Fragmente is soms neergeskryf op:

  • Bene
  • Leer
  • Palmblare
    • Geen volledige, saamgestelde boek het bestaan tydens Mohammed se lewe nie

Die “gebeure” (die openbarings) en die teks was dus nie een en dieselfde in vaste vorm nie.

C. Eerste Samestelling Ná Mohammed se Dood

Ongeveer 2 tot 3 jaar ná Mohammed se dood:

• Mondelinge materiaal word versamel
• Die weergawe was nie gestandaardiseer of wyd versprei nie
• Verskillende weergawes en dialekte was in omloop
• ’n Amptelike teks word saamgestel
• Alle ander variasies word vernietig
• Die Uthmaniese teks word die norm

Dit is hierdie stap wat gewoonlik bedoel word met “die gestandaardiseerde Koran”.

Tydlyn

FaseDatumWat gebeur
Eerste openbarings±610 n.C.Privaat openbarings aan Mohammed
Laaste openbaring632 n.C.Mohammed sterf
Eerste samestelling±634 n.C.Mondelinge materiaal versamel
Gestandaardiseerde teks±650 tot 656 n.C.Uthmaniese redaksie

Belangrike punte:

• Die “gebeure” is nie openbare historiese dade nie
• Dit is openbaringservarings, nie waarneembare gebeure vir ander nie
• Die waarheidseis berus op:

  • Een ontvanger
  • Mondelinge oorlewering
  • Latere standaardisering
    • Nie op meervoudige ooggetuies van die oorspronklike gebeure nie

Die Uthmaniese redaksie :

  • verwys na die proses, omstreeks 650 tot 656 n.C., waartydens Uthman, die derde politieke en godsdienstige leier na die dood van Mohammed,
  • ’n amptelike, eenvormige weergawe van die Koran laat saamstel het. Hierdie teks is gebaseer op bestaande mondelinge oorlewering en vroeë geskrewe fragmente.
  • Alle ander variasies en dialektiese weergawes is uitgewis om verskille te voorkom, waarna hierdie teks as die standaard Koran gevestig is.

D. Die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament staan nie op geloof alleen nie, maar op historiese prosesse wat ons ook vir ander antieke tekste vertrou.

Ons is besig om voor te berei, nie om te argumenteer nie.

Hier is ’n belangrike onderskeid:

Hierdie geskrifte is nie eeue later uit herinneringe saamgestel nie, maar relatief kort ná die gebeure neergeskryf en versprei.

In ’n wêreld waar ooggetuies nog leef, teenstanders nog leef en openbare teenstand sterk was.

Dit beteken: as hierdie verhale duidelik vals was, sou dit maklik en vinnig ontmasker word.

Twee Groepe Getuies

Wanneer ons by die kern van die Christelike geloof kom, kom ons by getuies uit, nie idees nie.

Eerste Groep: Volgelinge

Dit sluit in:
• Die dissipels
• Ander volgelinge
• Volgens vroeë bronne: meer as 500 mense na die opstanding

Hulle beweer nie: “Ons het iets gevoel” nie, maar: “Ons het iemand gesien.”

Hulle getuienis was:
Openbaar
Herhaaldelik
Lewensgevaarlik

Mense mag lieg om iets te wen, maar nie om alles te verloor nie.

Tweede Groep: Vyandige Getuies

Hierdie deel is belangrik.

Daar was ook mense wat nie wou glo nie:

• Romeinse soldate
• Tempelpolisie
• Joodse godsdienstige leiers

Hulle kon nie ontken dat die graf leeg was nie. Hulle het probeer verduidelik hoekom dit leeg was.

Vyandige bevestiging is dikwels sterker as vriendelike getuienis.

Hoekom Dit Saak Maak

As die opstanding net ’n verhaal was:
Sou dit privaat gebly het
Sou dit nie vyandige ondersoek oorleef het nie

Maar dit het presies die teenoorgestelde gedoen.

Dit het:
• Versprei
• Weerstand ontlok
• Bly voortbestaan

Ons het gesien:

• Die Nuwe Testament staan stewig binne bekende historiese prosesse
• Dit is oorgedra, gekopieer en bewaar soos ander betroubare antieke tekste
• Die kerngebeure berus op ooggetuienis, nie net van volgelinge nie, maar ook indirek van teenstanders

Christelike geloof vra dus nie vir beskerming teen vrae nie, maar vir voorbereiding vir vrae.

En dit is presies wat ons besig is om te doen: ons berei onsself voor om eerlik, rustig en met insig te kan gesels oor hoekom ons glo die Bybel is die waarheid, selfs sonder om dit eers aan te haal.

Afsluiting

Hiermee sluit ek af.

Die volgende 2 weke gaan ons gesels oor :


-Is die opstanding van Jesus Christus  ’n historiese feit, 

-en daarna volg ander wereldbeskouings as ons Christen wereldbeskouing.

____________________________________________________________________________________

Elke Woensdag op Radio Kaapse Kansel

Ek gesels elke Woensdag op Radio Kaapse Kansel vanaf 13:30.

Skakel gerus in met die APP van Cape Pulpit op jou selfoon, of op jou gewone radio op AM 729.

Stuur gerus jou kommentaar direk aan my. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar per WhatsApp persoonlik aan my stuur: 082 926 5062.

My webblad is:
amandapool.co.za

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.
Shalom.

Shopping Cart
Scroll to Top