DEEL 5
DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA
Dankie dat jy weer inloer. Ons gaan vandag verder op ons reis in Genesis.
Kom ons bid eers saam.
Dankie Vader dat ons die Bybel in Afrikaans en in ander tale beskikbaar het. Ons is so dankbaar dat ons dit kan lees en bestudeer om meer van U te weet. Dankie dat ons die vryheid in ons land het om dit te kan doen. Amen.
Wanneer ons Genesis lees, sien ons nie net die verhaal van een familie nie. Dit wys vir ons ook hoe die hele wêreld besig was, en is om te groei. Ná die vloed begin mense weer vermeerder, versprei hulle oor die aarde, en families ontwikkel in nasies, elk met hul eie plek, hul eie geskiedenis en hul eie pad.
In Genesis 10 lees ons hoe hierdie nasies gevorm word.
Dis baie duidelik in die Bybel dat die oorsprong van al hierdie mense dieselfde is.
Niemand staan buite God se skepping of Sy heerskappy nie.
Verlede week het ons ook gehoor dat dit nou die tyd was dat God deur een man, Abraham, met die mense praat.
Genesis 12:1–3
- God roep Abraham uit sy land en familie.
- Belofte: “Ek sal jou ’n groot nasie maak, jou seën, jou naam groot maak… In jou sal al die geslagte van die aarde geseën wees.”
Van Abraham af loop hierdie verbondslyn deur na Isak en Jakob, en uiteindelik word Jakob se naam verander na Israel en die verbondsvolk word Israeliete genoem.
My, en dalk jou vraag is ook: wat word dan van al die ander nasies?
Hou hulle op om te bestaan? Of is God net besig met een groep mense?
Die Bybel wys vir ons duidelik dat dit nie so is nie.
In die tydperk wat God dan Sy boodskappe via Abraham aan die verbondsvolk stuur, bly die res van die wêreld rondom hom aanhou ontwikkel.
Ismael word ’n groot nasie. Esau se nageslag, die Edomiete, het hul eie konings en gebiede. Abraham se kinders by Ketura versprei ook en vorm groepe. Die Kanaäniete woon reeds in die land. Egipte ontwikkel as ’n magtige beskawing.
Met ander woorde, die wêreld staan nie stil omdat God een verbondslyn kies nie. Inteendeel, al die ander nasies bly deel van die groter verhaal.
Ons sien ook dat God nie onbekend is vir almal buite hierdie lyn nie. Melgisedek word beskryf as ’n priester van God, lank voordat Israel as volk gevestig is. Later erken Jetro, Moses se skoonpa, dat die Here groter is as al die gode.
God se werk is baie groter as net een volk, selfs al kies Hy ’n spesifieke pad met die verbond wat Hy met Abraham gesluit het:
Die verbond is selektief, maar nie eksklusief in liefde nie.
God kies Abraham en sy nageslag, maar Hy sê terselfdertyd dat in Abraham al die nasies van die aarde geseën sal word.
Dit beteken Israel was nooit die eindpunt nie. Hulle was die kanaal.
Galasiërs 3:8
- Paulus skryf: “Die Skrif het vooruit gesien dat God die heidene uit geloof sou regverdig en het die evangelie vooruit aan Abraham verkondig: ‘In jou sal al die nasies geseën word.’
Ons sien hierdie beginsel baie duidelik in die Paasfees in Eksodus. Dit was ’n spesifieke fees vir Israel, gebou op hul verlossing uit Egipte. Maar selfs daar maak God voorsiening vir vreemdelinge. As iemand van buite die volk deel wou hê, kon hy dit doen, maar hy moes deel word van die verbond.
Met ander woorde, die deur was nie toe nie. Daar was ’n pad in.
Hierdie patroon loop regdeur die Bybel. God werk deur ’n spesifieke lyn, maar Sy doel is wyer. Hy begin by een plek, maar Hy mik na die hele wêreld.
In die Nuwe Testament sien ons hoe hierdie lyn sy vervulling kry. Die Paaslam word uiteindelik Christus. Die verlossing wat eens ’n volk gered het, word nou beskikbaar vir almal wat glo.
So wanneer ons na Genesis kyk, sien ons steeds een groot prent, alhoewel die nasies aan die een kant en die verbond aan die ander kant was.
En uiteindelik kom dit bymekaar.
God roep en die mens reageer.
Sy uitnodiging bly oop.
SJOE – dit som die verhaal van die mens in Genesis en daarna so mooi op.
Ek wonder self, dalk jy ook : … waar pas ek en jy in daardie storie in?
ONS SLUIT EERS AF
Volgende keer gesels ons verder – ook oor hierdie vraag.
Radio Kaapse Kansel
Ek gesels Woensdae op Radio Kaapse Kansel, skuins na 13h30. Daar is ook heruitsendings op ander dae.
Skakel gerus in met die app wat jy van die Playstore kan aflaai, Cape Pulpit, op jou selfoon.
Enige kommentaar is welkom. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik per WhatsApp aan my stuur.0829265062
Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.
Mag jou dag en week geseënd wees.
