DEEL 6 DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA

DEEL 6

DIE MENS in GENESIS… en nasies daarna 

 

Dankie dat jy weer inloer. Ons gaan vandag verder op ons reis in Genesis en soos jy aan die opskrif sien, ons is al by die nasies!

Kom ons bid eers saam.

Dankie Vader dat ons die Bybel in Afrikaans en in ander tale beskikbaar het. Ons is so dankbaar dat ons dit kan lees en bestudeer om meer van U te weet. Dankie dat ons die vryheid in ons land het om dit te kan doen. Amen.

In Genesis sien ons nie net die verhaal van een familie nie, maar ook hoe die hele wêreld besig was om te groei.

In Genesis 10 lees ons hoe hierdie nasies gevorm word, maar neem steeds in ag dat die oorsprong van al hierdie mense dieselfde is.

Niemand staan buite God se skepping of Sy heerskappy nie. 

Verlede week het ons ook gehoor van God se Verbond met  ABRAHAM en sy nageslag.  God werk wel deur Abraham se nageslag, maar ook om uiteindelik die hele mensdom te bereik.

Vandag gesels ons oor die eerste groep van verskillende volke, waar was hulle oorspronklik en waar is hulle vandag.

A.
Ons begin met Abraham en die verbondsvolk, volgens die Bybel was dit rondom  ±2000 v.C.

Hulle  unieke kenmerk was nie voorkoms, taal of kultuur nie, maar hul roeping en verhouding met God. Die volk wat deur Abraham gelei is,

    1. Hulle het uit Mesopotamië (Ur en later Haran) gekom en in Kanaän gevestig.
    2. Hulle was aanvanklik ’n  herdersgemeenskap, maar het oor tyd het hulle ’n gevestigde volk geword.
    3.  Hulle taal was Hebreeus, hulle het net in God geglo en hulle was gehoorsaam aan Sy verbondswette.
    4.  Uiterlike voorkoms  was Semities, soortgelyk aan ander Midde-Oosterse volke.
    5. Hierdie verbondsnageslag het vroeg bekend gestaan as die Hebreërs en word later in die Bybel die Israelitiese volk genoem ( Jakob se naam is na Israel verander  die naam  Israeliete.)            
B.
Ismaeliete (±1900 v.C. en verder):

Ismael, Abraham se seun by Hagar, het die vader geword van ’n groot nomadiese volk wat hoofsaaklik in die Arabiese woestyne gevestig het.

Hulle het ontwikkel as handelaars en karavaanvolke, met sterk oorlewingsvaardighede in droë streke.

  1. Oor eeue het hulle deel geword van die breër Arabiese wêreld, met taalontwikkeling na vroeë Arabies en kulture wat vandag nog herkenbaar is in Midde-Oosterse en Noord-Afrika gemeenskappe.
  2. Hulle het oorwegend nie die verbondsgeloof van Abraham gevolg nie, maar het verskillende stam- en streeksgode vereer, totdat veel later ander godsdienstige ontwikkelings in die Arabiese wêreld plaasgevind het. Hulle was wel “buite die verbond”, maar nie heeltemal buite God se voorsienigheid nie (soos ons in Genesis lees). 
  3. Oor eeue het woestynomstandighede, migrasie en vermenging hul voorkoms en leefwyse gevorm, hoewel baie Semitiese kenmerke gebly het.   
C.
Edomiete (Esau se nageslag) (±1800 v.C.)

Esau se nageslag het in die bergagtige gebied van Seïr (suid van die Dooie See) gevestig.

  1. Hulle het ’n meer gevestigde samelewing ontwikkel met konings en strukture vroeër as Israel. 
  2. Die Edomiete was bekend vir hul rooiagtige grondgebied en moontlik ook hul fisiese beskrywing wat met Esau se naam verbind word.
  3. Hulle taal en kultuur was baie naby aan dié van Israel, maar hul geskiedenis word gekenmerk deur spanning en konflik met Israel. 
  4. Hulle het nie die Here binne Israel se verbond gedien nie, en word in die Skrif dikwels verbind met ander gode.
D.
Ketura se nageslag (±1900–1700 v.C.)      

Abraham se kinders by Ketura het ooswaarts beweeg, waarskynlik na dele van die Arabiese Skiereiland.

  1. Hierdie groepe het waarskynlik geïntegreer met ander woestynvolke en het deel geword van breër Semitiese stamme.
  2. Hulle het nie ’n sentrale Bybelse rol gespeel nie, maar was deel van die verspreiding van Abraham se fisiese nageslag buite die direkte verbondsvolk
  3.  Hulle het waarskynlik, soos baie omliggende volke, stamgode en plaaslike godhede gedien eerder as die verbondsgeloof voort te dra.
  4. Deur verspreiding en integrasie met ander woestynvolke het hul voorkoms en kulturele gewoontes geleidelik verder ontwikkel.
E.
Kanaäniete (voor en tydens ±2000 v.C.)               

Die Kanaäniete was reeds gevestigde volke in die land Kanaän toe Abraham daar aankom.

  1.  Hulle het stadstate ontwikkel (soos Jerigo en later ander stede) met landbou, handel en komplekse godsdienstige praktyke.
  2.  Hulle kultuur was stedelik en ontwikkel, met verskeie tale en dialekte. Oor tyd het hulle vermeng met ander volke of is deur Israel en ander ryke oorheers, maar hul invloed op die  streek se kultuur en gebruike was groot.
  3.  Hulle was bekend vir politeïstiese godsdiens, met gode soos Baäl.
  4. Oor tyd het hul voorkoms, gebruike en selfs eetkultuur ontwikkel deur handel, vermenging en stedelike invloede.
OPSOMMING

Wat hier duidelik word, is dat al hierdie volke uit dieselfde menslike oorsprong kom, maar oor eeue versprei en aangepas het by verskillende omgewings en omstandighede.

Klimaat, geografie, taalontwikkeling en sosiale strukture het hulle uiterlike voorkoms, kulture en leefwyses gevorm.

Tog bly die Bybel se fokus dat, te midde van hierdie groeiende verskeidenheid, God deur een spesifieke lyn werk om uiteindelik die hele mensdom te bereik. 

Volgende keer gesels ons oor nog ʼn paar bevolkings groepe

ONS SLUIT EERS AF

Ek gesels Donderdae na die 11 uur nuus, op Radio Kaapse Kansel. ;daar is ook heruitsendings op ander dae.  Skakel gerus in met die app wat jy van die Playstore kan aflaai, Cape Pulpit, op jou selfoon.

Enige kommentaar is welkom. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik via WhatsApp aan my stuur, by  0829265062

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.
Shalom

 

Shopping Cart
Scroll to Top