DEEL 7 DIE MENS in GENESIS… en daarna

DEEL 7

 

DIE MENS in GENESIS… en nasies daarna

 

Goeiedag liewe leser, dankie dat jy kom in loer om verder te lees oor die laaste paar interessanthede van hierdie reeks.

Kom ons bid net eers saam :

Vader, dankie dat U Woord vir ons oop is. Dankie dat ons U kan leer ken daardeur.

Dankie vir die vryheid om dit te lees en te verstaan. Amen.

 

Na ons gesprekke van die vorige weke, kan ons nou gesels oor wat van ABRAHAM en sy nageslagasook die ander volke geword – van toe tot vandag…

Die Bybel se fokus bly dat, te midde van hierdie groeiende verskeidenheid, God deur een spesifieke lyn werk om uiteindelik die hele mensdom te bereik.

 

 

Verlede keer :
ABRAHAM en die verbondsvolk wat later ISRAELIETE genoem is, en ook die volgende groepe:

    • Ismaeliete
    • Edomiete
    • Ketura se nageslag
    • Kanaäniete

Vandag vertel ek julle meer oor ʼn volgende groep:

A.

Egiptenare (antieke beskawing ±3000 v.C. en verder)

Die Egiptenare was reeds ’n gevorderde beskawing lank voor Abraham.  Hulle het langs die Nylrivier ontwikkel met ’n sterk sentrale regering (Farao’s),

Hulle voorkoms en kultuur is gevorm deur hul Afrika- en Midde-Oosterse invloede.

Israel se tyd in Egipte het ’n groot rol gespeel in hul identiteit, veral deur die ervaring van slawerny en verlossing, en hulle het verskillende godsdiensige praktyke beofen, nogals redelik kompleks. 

VANDAG

Vandag leef die nageslag van die antieke Egiptenare hoofsaaklik voort in die moderne Egiptiese bevolking, hoewel hulle oor eeue met Arabiese, Afrika- en Mediterreense invloede vermeng het. Egipte bly steeds ’n belangrike land in Noord-Afrika, met ’n baie ryk geskiedenis wat terugwys na die Bybelse tyd.

 

B.

Assiriërs en Babiloniërs (±2000–600 v.C.)
Hierdie groot ryke het uit Mesopotamië ontstaan.

Die Babiloniërs het vroeë beskawings ontwikkel met wette, skryfwerk en stede, terwyl die Assiriërs bekend was vir hul militêre mag en uitbreiding. Hulle het verskillende volke oorheers en mense oor groot gebiede versprei, wat gelei het tot vermenging van tale en kulture.

Hul invloed het grootliks bygedra tot die verskeidenheid van volke in die antieke wêreld.

Hulle het verskeie gode aanbid, onder andere Marduk en Assur, binne hoogs ontwikkelde godsdienstige stelsels.

As ryke wat baie volke opgeneem het, het hul bevolkings toenemend meer uiteenlopende voorkoms en kulturele eienskappe vertoon.

VANDAG 

Vandag bestaan daar steeds Assiriese gemeenskappe, veral in Irak, Sirië, Iran en ook in diaspora-gemeenskappe wêreldwyd. Die antieke Babiloniese ryk bestaan nie meer as ’n volkstaat nie, maar sy geskiedenis leef voort in die gebied van moderne Irak en in die argeologiese en kulturele nalatenskap van Mesopotamië.

C.

Ander Semitiese en omliggende volke (voortdurend vanaf ±2000 v.C.)
Baie ander groepe het parallel ontwikkel:

    • Moabiete,
    • Ammoniete en
    • Arameërs.

Hulle het almal uit soortgelyke oorspronge gekom, maar het oor tyd unieke tale, kulture en identiteite gevorm.

Migrasie, handel, oorloë en gemengde huwelike het veroorsaak dat mense oor eeue fisies en kultureel begin verskil het, en dit het uiteindelik gelei tot die groot diversiteit wat ons vandag sien.

VANDAG :

Vandag bestaan hierdie groepe nie meer almal as afsonderlike antieke volke soos in Bybelse tye nie, omdat hulle oor eeue met ander bevolkings vermeng het. Tog leef hulle nalatenskap voort in die tale, kulture en geskiedenis van die Midde-Ooste, veral onder Arabiese, Aramese en ander Semitiese gemeenskappe.

Wat hier duidelik word, is dat al hierdie volke uit dieselfde menslike oorsprong kom, maar oor eeue versprei en aangepas het by verskillende omgewings en omstandighede.

Klimaat, geografie, taalontwikkeling en sosiale strukture het hulle uiterlike voorkoms, kulture en leefwyses gevorm. Tog bly die Bybel se fokus dat, te midde van hierdie groeiende verskeidenheid, God deur een spesifieke lyn werk om uiteindelik die hele mensdom te bereik.

Verder het hierdie groei en proses oor die eeue bly herhaal, totdat ons aan die einde van die Ou Testament waar ons by die ongeveer 400 jaar van stilte kom, en dan die Nuwe Testament, die 4 evangelies en Handelinge, wat   uiteindelik die geboorte van Jesus Christus beskryf.

Na Sy bediening,  kruisiging en opstanding, en nadat Hy opgevaar het na die hemel, het hierdie patroon steeds voortgegaan.

D.

Ons beweeg aan na vandag en die bevolkingsgroepe rondom ons :
Die moderne begrip van “ras” is relatief nuut. In die Bybel is daar eerder van nasies, tale en familielyne gepraat. Dit pas by Genesis, waar die fokus op afstamming en volke is, eerder as op fisiese klassifikasie.

Namate mense oor eeue versprei het, het verskillende bevolkingsgroepe ontwikkel deur migrasie, aanpassing en vermenging. Dit sien ons ook later in Suider-Afrika.

Die Khoisan :

Hulle word beskou as een van die oudste aaneenlopende bevolkingsgroepe op aarde. Hulle voorouers het baie vroeg van ander groepe afgeskei en lank in Suider-Afrika gewoon. Die San was hoofsaaklik jagters en versamelaars, terwyl die Khoikhoi meer op veeboerdery gefokus het. Hulle het ’n diep kennis van die natuur ontwikkel en is bekend vir hul rotskuns, mondelinge tradisies en unieke klik-tale.

VANDAG

Vandag leef Khoisan-gemeenskappe steeds in dele van Suid-Afrika, Namibië en Botswana. Hoewel baie van hul oorspronklike leefwyses oor tyd verander het, speel hulle kultuur, tale en geskiedenis steeds ’n belangrike rol in Suider-Afrika se erfenis.

Ander


Baie later het migrasiegroepe vanuit Wes- en Sentraal-Afrika oor lang tydperke suidwaarts beweeg. Hierdie groepe het landbou, veeboerdery, ystertegnologie en meer gevestigde dorpslewe saamgebring.

VANDAG

Vandag vorm die nageslag van hierdie migrerende groepe ’n groot deel van die bevolking van Suider-Afrika. Hulle tale, kulture en tradisies het oor eeue verder ontwikkel en bly ’n belangrike deel van die streek se identiteit.

 Xhosa en Zulu

Uit hierdie ontwikkeling het groepe soos die Xhosa en Zulu ontstaan. Die Xhosa het hoofsaaklik in die Oos-Kaap gevestig en het oor tyd ook invloede van Khoisan-groepe opgeneem, veral in hul taal waar klikklanke voorkom. Die Zulu het sterker ontwikkel in KwaZulu-Natal, met ’n goed georganiseerde samelewing gebaseer op landbou, veeboerdery en militêre strukture.

Tradisioneel het beide groepe sterk gemeenskaps- en familiegerigte leefwyses gehad, meestal in landelike gebiede en nedersettings waar uitgebreide families saam gewoon het. Voor die koms van Christelike sendingwerk het hulle hoofsaaklik tradisionele Afrika-godsdienste beoefen, wat geloof in ’n Skeppergod, voorvaderlike erfenis en geestelike gebruike ingesluit het.

VANDAG

Vandag is die Xhosa- en Zulu-gemeenskappe van die grootste kulturele groepe in Suid-Afrika. Baie mense woon steeds in landelike gebiede van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal waar tradisionele gebruike, familie-erfenis en kulturele seremonies steeds sterk voortleef.

Terselfdertyd het groot getalle oor dekades na stede verhuis vir werk, opleiding en nuwe geleenthede. Daarom leef baie Xhosa- en Zulu-mense vandag ook in stedelike en meer Westerse omgewings, waar moderne leefstyle dikwels saam bestaan met tradisionele waardes en kulturele identiteit.

Godsdienstig identifiseer baie vandag as Christene, insluitend verskillende kerkverbande soos Protestantse, Katolieke, Pinkster- en onafhanklike Afrika kerke. In sommige gemeenskappe bestaan Christelike geloof en sekere tradisionele kulturele gebruike ook langs mekaar.

Hoewel hierdie groepe verskillend ontwikkel het in taal, kultuur, leefwyse en uiterlike voorkoms, bly die groter prent dieselfde: alle mense deel dieselfde menslike oorsprong.

 

Vanuit ’n Bybelse perspektief staan geen volk of nasie los van God nie. Die verskeidenheid wat ons vandag sien, is die gevolg van eeue se verspreiding, ontwikkeling en aanpassing, maar die mensdom bly een menslike familie.

 

Volgens Suid-Afrika se 2022 sensusdata is isiZulu die grootste huistaal in die land, met ongeveer 24.4% van die bevolking wat dit as eerste taal praat. IsiXhosa volg met ongeveer 16.3%.

Dit beteken prakties dat:

    • Ongeveer 1 uit elke 4 Suid-Afrikaners praat hoofsaaklik isiZulu.
    • Ongeveer 1 uit elke 6 Suid-Afrikaners praat hoofsaaklik isiXhosa.

Saam verteenwoordig hierdie twee groepe dus ongeveer 40% van Suid-Afrika se bevolking wanneer daar volgens huistaal en kulturele identiteit gekyk word.

In breër Suider-Afrika kom Zulu- en Xhosa-verwante gemeenskappe ook voor in lande soos:

    • Zimbabwe
    • Lesotho
    • Eswatini
    • Mosambiek
    • Botswana

veral deur historiese migrasie, familieverbintenisse en arbeidverskuiwing oor baie dekades.

 
 
 

———————————————————————————————————————————————————————————————————————

HIERMEE SLUIT ek vandag se gesels en dan ook hierdie reeks af :

Stuur asb jou kommentaar, dit sal so welkom wees. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik per WhatsApp aan my stuur. 0829265062

Ek gesels ook oor hierdie en ander onderwerpe weekliks op Radio Kaapse Kansel. Weekliks op ʼn Donderdag net na die 13h00 nuus, en dit word 2 keer op ander dae ook herhaal.

Ek sien baie uit daarna om volgende keer weer met julle te gesels. Dan vertel ek julle van die nuwe reeks, die nuwe tydgleuf en die interaktiewe gesprekke waaraan jy per WhatsApp kan deelneem, terwyl ek gesels op die radio gesels.

 

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.

Shalom

Shopping Cart
Scroll to Top