DEEL 6 MET JOU HELE VERSTAND

DEEL 6
MET JOU HELE VERSTAND

Dit bly vir my ’n voorreg om saam die pad te stap tot dieper begrip van Jesus Christus, Sy opstanding en hoe ons hierdie kan oordra aan ander.

Kom ons bid saam.

Heilige Gees, maak ons ore, oë, harte en ook ons verstand oop vir wat waar is en wat ons vandag gaan leer. Dankie vir U Woord en dat U mens geword het en onder ons kom woon het. Amen.

Die afgelope paar weke gesels ons oor iets wat eenvoudig mag voel, maar dis soveel dieper as wat ons besef het toe ons dit die eerste keer gelees het:

“In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.”

En daarmee saam dit wat Jesus die Joodse leiers geantwoord het toe hulle vra wat is die eerste en die grootste gebod:

Ons moet God liefhê met ons hele
• Hart
• Siel
• Verstand

Dit het ons laat stilstaan by hierdie 2 aspekte:

• Eerstens, dat ons God moet liefhê met ons hele verstand. (en wat beteken die verstand deel werklik) 
• Tweedens, dat ons sekerheid oor die Bybel nie net emosioneel is nie, maar Skriftuurlik en histories verantwoordbaar.

A. Die Bybel verklaar dit self:


        • Johannes 1:1 tot 2 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God.”
        • Johannes 1:14 “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon…”
        • Kolossense 1:16 tot 17 “Want in Hom is alle dinge geskep… Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alles stand.”
        • Openbaring 22:13 “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

B. Die Woord is deur die Gees geïnspireer:


        • 2 Timoteus 3:16  “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig…”
        • 2 Petrus 1:20 tot 21   “Geen profesie van die Skrif ontstaan uit eie uitleg nie… mense het van God gespreek soos hulle deur die Heilige Gees meegevoer is.”
        • Hebreërs 1:1 tot 2   “Nadat God baie kere en op baie maniere in die ou tyd tot die vaders gespreek het deur die profete… maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”
        • 1 Tessalonisense 2:13   “Toe julle die woord van God wat julle van ons gehoor het, ontvang het, het julle dit nie as mensewoord aanvaar nie, maar as wat dit werklik is, as woord van God…”

Maar dit staan nie net op skrifverklarings nie.

C. Daar is ook historiese bewyse:


Historiese bewyse bestaan van 24 633 manuskripte waarvolgens vandag se Nuwe Testament geskryf is.

Dis noodsaaklik dat ons vas gegrond is in hierdie begrippe:
• Die Nuwe Testament staan stewig binne bekende historiese prosesse.
• Dit is oorgedra, gekopieer en bewaar soos ander betroubare antieke tekste.
• Die kerngebeure berus op ooggetuienis, nie net van volgelinge nie, maar ook indirek van teenstanders.

Christelike geloof vra dus nie vir beskerming teen vrae nie, maar vir voorbereiding vir vrae.

En dit is presies wat ons besig is om te doen: ons berei onsself voor om eerlik, rustig en met insig te kan gesels oor hoekom ons glo die Bybel is die waarheid, selfs sonder om dit eers aan te haal.

Met al hierdie aspekte in ag genome is die opstanding van Jesus Christus dus die absolute waarheid, ’n werklike gebeurtenis, en is dit noodsaaklik dat ons absolute sekerheid en geloof hieroor het.

WAT VRA CHRISTELIKE GELOOF DAN?:


      • Christelike geloof vra nie dat ons vrae moet vermy nie.
        Dit vra dat ons voorbereid moet wees.

En wanneer alles saamgevat word, kom ons by die grootste gebeurtenis uit:

DIE OPSTANDING!


Paulus sê dit sonder versagting:  As Christus nie opgewek is nie, is ons geloof nutteloos.

Dit beteken alles draai om hierdie vraag: Het dit werklik gebeur?

Kom ons kyk na die historiese data,  sekere feite wat verduidelik kan, en moet word:

      • Jesus het werklik gesterf.
      • Romeinse kruisiging was bedoel om dood te veroorsaak.
      • Sy dood is bevestig.
      • Hy is begrawe in ’n graf wat verseël en beveilig is.
      • Daardie graf is leeg gevind.
      • ’n Groot klip is voor die graf gerol.
      • Die graf is verseël.
      • Wagte is aangestel.

Dit is dus onmoontlik dat die liggaam gesteel is, soos wat sommige beweer het.

Daar was ook berigte van verskynings, nie net aan volgelinge nie, maar ook aan mense wat skepties was of selfs vyandig.

Die dissipels, wat eers bang was, begin openlik in Jerusalem praat.

Die Christelike beweging begin in die stad waar die kruisiging plaasgevind het.

As die liggaam nog daar was, kon alles onmiddellik beëindig word. Maar dit het nie gebeur nie.

’n Werklike dood, ’n beveiligde graf, ’n leë graf, verskynings, veranderde lewens en ’n geloofsbeweging wat nie stilgemaak kon word nie.

En dit is hier waar die Opstanding nie net ’n geloofsbelydenis word nie, maar ’n historiese aanspraak.

Christenskap is nie bloot een wêreldbeskouing tussen baie nie. Dit is geanker in ’n gebeurtenis.

Nou is die vraag nie meer watter wêreldbeskouing vir my gemaklik voel nie, maar watter wêreldbeskouing hierdie gebeurtenis kan verduidelik.

   ____________________________________________________________________________

Hiermee sluit ek vandag af.

Volgende week gaan ons kyk na ander wêreldbeskouings in vergelyking met die Christelike wêreldbeskouing.

Elke Woensdag om 13:30 gesels ek op Radio Kaapse Kansel, AM 729 of via die Cape Pulpit toepassing. (daar is ook heruitsending) 

Jy is welkom om kommentaar te stuur via my webblad amandapool.co.za of per WhatsApp 0829265062.

Ek sien uit daarna om volgende week weer saam te kuier. 

Ek is Amanda Pool.
SHALOM
Shopping Cart
Scroll to Top