DEEL 3 DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA

DEEL 3

 

DIE MENS IN GENESIS … EN DAARNA

 

Dankie dat jy weer inloer – ons gaan vandag verder op ons reis in Genesis.

Kom ons bid eers saam:

Dankie Vader, dat ons die Bybel in Afrikaans en in ander tale beskikbaar het. Ons is so dankbaar dat ons dit kan lees en bestudeer om meer van U te weet. Dankie dat ons die vryheid het in ons land om dit te kan doen. AMEN

Verlede keer het ons gesels oor ’n paar aspekte wat ons raak gelees het en nuwe betekenis ontvang het. Ons het by Genesis begin, maar hierdie keer nie met argumente nie, en ook nie met die wetenskap nie. Ons weet nou: dit het begin by Jesus.

En ons het afgesluit met:

“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg was…”
Genesis 6:5 (1983)

Die Bybel beskryf vir ons ’n wêreld waar boosheid en geweld algemeen geword het. Die mense het ’n korrupte leefwyse gevolg, en dit het so erg geraak dat God hartseer was oor wat van Sy skepping geword het.

Toe sê die Here:

“Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”
“Maar Noag is deur die Here begenadig.”
Genesis 6:7–8 (1983)

En dan volg die bekende verhaal: God gee baie duidelike opdragte aan Noag oor hoe hy die ark moet bou.

Die Bybel sê nie eksplisiet hoe lank dit geneem het nie, maar uit die ouderdomme wat beskryf word, is dit redelik om af te lei dat dit ongeveer 100 jaar kon wees (moontlik tot 120 jaar, afhangende van hoe ons Genesis 6:3 verstaan).

Die mense het nie na Noag geluister nie. Die idee dat hulle hom gespot het, is nie direk geskryf nie, maar dit is ’n logiese afleiding.

Ons lees wel wat Jesus gesê het in Matteus 24:37–39:

“Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.

In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.”

Na die vloed het God vir Noag en sy familie ’n nuwe begin gegee, met ’n duidelike opdrag: wees vrugbaar, vermeerder en vul die aarde.

Maar kort daarna sien ons hoe die mens weer van God se bedoeling begin afwyk.

Noag plant ’n wingerd, raak dronk en lê ontbloot. Dit wys ’n gebrek aan selfbeheersing en waardigheid.

Sy seun Gam reageer met oneerbiedigheid teenoor sy vader, eerder as eer en respek.

Hierdie gebeure wys vir ons iets dieper: sonde was steeds teenwoordig in die mens se hart, selfs ná God se oordeel en genade.

Genesis 9:21–22 (1983):
“Hy het van die wyn gedrink en dronk geword en in sy tent naak gelê. Gam, die vader van Kanaän, het sy pa se naaktheid gesien en dit buite vir sy twee broers vertel.”

En so sien ons ’n patroon: dit gaan weer erger en erger.

Later beplan die mense om ’n toring te bou met ’n punt wat tot in die hemel strek.

Toe sê God:
“Kom, laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”
Genesis 11:7 (1983)

God het hulle toe oor die hele aarde verstrooi:

“Die Here het hulle toe van daar af oor die hele aarde verstrooi, en hulle het opgehou om die stad te bou. Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.”
Genesis 11:8–9 (1983)

Dit is hartseer om te sien:

God skep – die mens verander.
God oordeel – die mens verander weer.

En tog hou God nie op nie.

Hierna begin God deur ’n mens werk, om Sy bedoeling weer sigbaar te maak.

 

Volgende keer gesels ons oor die eerste persoon wat God hiervoor geroep het: die roeping van Abram.

 

RADIO KAAPSE KANSEL

Ek gesels elke week op ’n Woensdag op Radio Kaapse Kansel (daar is ook heruitsendings op ander dae).

Skakel gerus in met die app wat jy van Play Store kan aflaai: Cape Pulpit – op jou selfoon, of op jou gewone radio op AM 729.

Enige kommentaar is welkom. Jy kan dit via hierdie webblad doen of jou kommentaar persoonlik per WhatsApp aan my stuur: 082 926 5062.

Ek sien baie uit daarna om volgende week weer met julle te gesels.

Mag jou dag en week geseënd wees.

Ek is Amanda Pool.
Shalom 
 
 
Shopping Cart
Scroll to Top